Update
STILBAAI NUUS - Johan Victor, ’n joernalis van die Suid-Kaap Forum, is nog besig om aan te sterk in die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai nadat hy verlede Donderdag bewusteloos op die rotse naby Geelkrans aangetref is.
Victor is Donderdagmiddag as vermis aangemeld nadat hy vermoedelik alleen na die kusgebied van Geelkrans gegaan het.
’n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur met samewerking tussen die SAPD, NSRI, Stilbaai-buurtwag en talle vrywilligers.
Ongelukkig is die soekoperasie na sowat ’n uur gestaak weens gevaarlike weerstoestande.
Een toegewyde vrywilliger het egter geweier om moed op te gee en het die soektog op eie houtjie voortgesit.
Hierdie daad van vasberadenheid het vrugte afgewerp toe hy Victor later bewusteloos op die rotse gevind het.
Volgens sy vrou, Laverne Victor, is Johan reeds uit die intensiewesorgeenheid ontslaan en herstel tans in ’n algemene saal.
“Ons is dankbaar dat hy veilig gevind is. Die dokters is steeds besig met toetse om vas te stel wat presies gebeur het,” het sy gesê.
Die oorsaak van die insident bly voorlopig onbekend, maar die fokus is nou op Victor se herstel en verdere mediese ondersoeke.
Die Victor-gesin het hul opregte dank uitgespreek teenoor die gemeenskap, hulpdienste en vriende vir hul ondersteuning, gebede en liefde tydens hierdie traumatiese tyd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’