STILBAAI NUUS - Die herbarium in die Tuin-Op-Die-Brak in Stilbaai verrig reusewerk om Hessequa se unieke plantegroei vir die nageslag te boekstaaf.
Op 'n Dinsdagoggend van nege tot twaalf sal jy tussen 10 tot 12 vrywilligers by die herbarium in die Tuin-Op-Die-Brak kry waar hulle besig is om plantspesies eie aan die Hessequa, maar soms ook "inkommers" te droog, te boekstaaf en te liasseer.
Hul liefde vir die natuur en die bewaring daarvan straal behoorlik uit en as hulle tussendeur koffiedrink word daar dik stukke oor hulle wedervaringe in die veld gesels.
Met Suid-Kaap Forum se besoek op Dinsdag 1 Augustus was Naomi van Schalkwyk, Christina Mars en Angela Noske hard aan die woel met die plantspesies terwyl Johan van Staden besig was om alles op die rekenaar te laai.
Wat hulle fisiek doen, is om in die veld te stap en as hulle op 'n plant of plantjie afkom sal hulle eers 'n foto van die plant neem. Soms selfs 'n foto van die omgewing. Daarna sal hulle versigtig 'n takkie afbreek sonder om die plant te beskadig. Christina sê dat sy met 'n hardeband boek rondstap.
Die takkie wat sy afbreek gaan onmiddellik in die boek om hom solank mooi plat te druk.
Die herbarium by Tuin-Op-Die-Brak in Stilbaai.
By die herbarium word die takkie se volle naam neergeskryf asook waar dit gevind is. Dit word genommer en die kleur van die blom asook sy status word neergeskryf. Is dit byvoorbeeld 'n bedreigde spesie? Is dit endemies en ook wie die versamelaar is.
Elkeen kom in sy eie omslag en dit word dan geliasseer nadat dit ook op rekenaar vasgelê is.
Die Hessequa-streek bestaan uit 19 verskillende habitats en hieruit het hulle al 2 080 eksemplare gedokumenteer.
Om hierdie reusetaak te verrig het jy natuurlik ook 'n permit nodig wat Cape-Nature na 'n deurtastende proses uitreik. Enige Jan Rap en sy maat kan dus nie wild en wakker begin plantjies versamel nie. As jy gevang word, kan jy 'n baie groot boete opgelê word.
Naomi sê dat hulle vir die toekoms bewaar. In die vroeë 1900's het John Muir met dit in die Hessequa-streek begin. Later was daar Pauline Bohnen en Tol Pienaar en deesdae is dit die vrywilligers van die Stilbaai Herbarium. Hulle hoop egter dat hierdie werk sal voortgaan al is hulle nie meer daar nie.
Christina Mars (links), Angela Noske (staande) en Naomi van Schalkwyk hard aan die uitsorteer en dokumentering van plantspesies.
Belangstellendes word aangemoedig om hulle op 'n Dinsdagoggend tussen nege en twaalf te besoek en om dan sommer bietjie deur die Tuin-Op-Die-Brak te stap. Hierdie pragtige tuin is te danke aan die inwonersvereniging en ander inwoners wat in 2007 daarmee begin het. In 2016 is dit aan die Hessequa-munisipaliteit oorhandig.
Met die Wes-Kaapse regering se groenste munisipaliteit-inisiatief het Tuin-Op-Die-Brak die toekenning in 2012 ontvang vir die mees innoverende projek in die Wes-Kaap.
Die rakke waarin die 2 080 eksemplare geliasseer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’