STILBAAI NUUS - Gedurende die vakansie is die hawemuur in Stilbaai 'n miernes van bedrywighede.
Kordate jong vissermanne en -vroue is gedurig op en af, terwyl die geduldige pappas sorg dat daar gereeld aas aangesit word. Hulle moet ook hand bysit wanneer daar 'n klein vissie aan die hoek hang.
Dit is egter jammer dat daar klaarblyklik geen haas is om onderhoud aan die muur te doen nie. Die muur is werklik in 'n swak toestand en veral die skeur naby die ligtoring raak al groter.
Die ligtoring is natuurlik 'n belangrike baken, veral snags en wanneer digte mis oor die hawe hang.
Drie staatsdepartemente het elk 'n funksie by hierdie klein hawe, wat die hele proses natuurlik bemoeilik. Seevisserye is betrokke by die visvang en -beheer gedeelte. Openbare Werke is in beheer van infrastruktuuronderhoud, terwyl Portnet verantwoordelik is vir die ligtoring.
Die feit bly egter staan dat iemand dringend met onderhoud sal moet begin voordat dit te laat is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’