STILBAAI NUUS - Op Erfenisdag was die Stilbaai-gemeenskapsaal volgepak met leerders van Laerskool Bertie Barnard en inwoners om afskeid te neem van Liam Claassen.
Die 12-jarige Liam het in die vroeë oggendure van Maandag 15 September gesterf nadat hy in 'n diabeteskoma verval het.
Liam is byna twee jaar gelede as 'n tipe1-diabeet gediagnoseer en het Sondagoggend begin sleg voel. Nadat sy ma, Marietha Rheeder, nie daarin kon slaag om sy suikervlakke af te bring nie is hulle na Riversdal-hospitaal wat hom dadelik na George-hospitaal oorgeplaas het.
Ten spyte van talle dokters se pogings kon hulle hom nie red nie.
Marietha sê na sy skielike dood het die wonderlike Stilbaai-gemeenskap haar toegevou in liefde en dra haar nog steeds elke dag. Met huldeblyke wat instroom besef sy nou eers wat 'n wonderlike seuntjie Liam was en wat hy vir sy groot vriendekring van alle ouderdomme beteken het. Sy gaan hard probeer om te lewe soos wat hy gelewe het en sy besef dat sy nou sy no-6 skoene sal moet volstaan.
Sy het nie genoeg woorde om almal, bekend en onbekend, te bedank vir die wonderlike onderskraging nie. Daarsonder sou sy dit nie maak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’