STILBAAI NUUS - In haar voorsittersverslag tydens Stilbaai gemeenskapspolisieforum (GPF) se algemene jaarvergadering op Donderdag, 24 Februarie gee Alison Bryant terugvoer oor hulle werksaamhede van die afgelope jaar en ook waarmee hulle tans besig is.
In 2021 is 17 veiligheidskameras installeer, om die totaal op 43 te bring. "Dis 'n groot prestasie, in ag genome dat dit sowat R30 000 kos om een kamera te installeer," het sy beklemtoon.
Hierdie kameras is almal op strategiese punte en is 'n baie groot hulpmiddel om die polisie te help om hulle taak uit te voer. Die finansies kom uit die gemeenskap deur middel van donasies, asook vaste maandelikse bydraes. "Hiervoor wil ons as GPF ons dank en waardering uitspreek teenoor daardie persone en organisasies vir wie die veiligheid van Stilbaai en omgewing belangrik is."
'n Groentetuin is op Melkhoutfontein gevestig, wat reeds geld vir die GPF teruggeploeg het. Hulle is ook besig met 'n projek om 'n park hier te vestig omdat daar geen veilige speelplek vir die plaaslike kinders is nie.
In beplanning is die moontlike opgradering van die polisiestasie, oprigting van aparte ablusiegeriewe vir die hof en 'n hommeltuig om oë in die lug te wees, afhangende van beskikbare geld omdat staatsbefondsing slegs hulle bedryfsuitgawes dek.
Die stasiebevelvoerder, kapt Johan van Tonder het terugvoer oor misdaad en misdaadbekamping gegee. Volgens hom benader die polisie dit uit twee hoeke. Eerstens die harde benadering, soos byvoorbeeld arrestasies. Die sagte benadering is byvoorbeeld projekte met kinders.
"Kinders moet weet wat is reg en wat is verkeerd. Hulle moet ook besig gehou word, want ledigheid is die duiwel se oorkussing."
Van Tonder het die belangrikheid van buurtwaglede beklemtoon, omdat hulle oë en ore 'n belangrike hulpmiddel vir die polisie is. "Dié lede kry geen betaling nie en ry patrollies met hulle eie voertuie, op eie onkoste. Die polisie het beperkte bronne en getalle en hierdie buurt- en plaaswaglede vul die gapings."
Hy noem dat drank en dwelms die grootste oorsake van misdaad is. "Uit die misdaadstatistieke is dit baie duidelik dat inbrake tydens die harde inperking baie laer as ander tye, maar oor die algemeen is Stilbaai nog relatief veilig. Solank as wat inwoners waaksaam bly, sal misdaad nie groei nie."
Bedrog en spesifiek internetbedrog is 'n groot bron van kommer en veral weerlose mense word hier geteiken. "Verlede jaar is 47 bedrogsake aangemeld. Onthou altyd dat jou bank nooit jou pinnommer oor die telefoon sal vra nie. As jy onseker voel, sit liefs die telefoon neer en skakel jou bank vir bevestiging," raai hy aan.
'n Nuwe ondervoorsitter en sekretaris is tydens die vergadering verkies. Willem Doman sal voortaan die ondervoorsitter se stoel by vergaderings inneem en Mercia Williams sal onder andere vir die notules verantwoordelik wees.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'