STILBAAI NUUS - Die gemeenskappolisiëringsforum van Stilbaai het Maandagaand 30 Junie 'n baie geslaagde Imbizo in Die Waenhuis by Jagersbosch gehou.
Alison Bryant, voorsitter van die Stilbaai GPF, het begin deur net weereens die rol en doel van die GPF te beklemtoon en sy het ook die geleentheid gebruik om terugvoer te gee rakende hulle projekte.
Kaptein Johan van Tonder, bevelvoerder van Stilbaai SAPD, het van die misdaadstatistieke vir die tydperk April tot Junie uitgelig en daaruit is dit duidelik dat Stilbaai nog een van die veiligste dorpe in die land is. Hy het ook die buurt- en plaaswagte bedank vir hulle bydrae.
Volgens hom bly dwelms 'n groot probleem, maar dit is vir hulle 'n prioriteit en dit werp vrugte af.
'n Kopseer is die paar misdadigers wat toegesluit word, maar sodra hulle vrygelaat is breek hulle weer in om hulle dwelmafhanklikheid te finansier.
Justin Plaatjies het kortliks uitgelig wat Hessequa se wetstoepassers se taak is en dat hulle heelwat sukses behaal is duidelik.
George Sabbagha het terugvoer gegee oor die groot taak wat die buurt- plaaswagte verrig. Hierdie mense kry geen vergoeding nie, gebruik hulle eie voertuie en gooi self brandstof in en as jy dus in die aand deur die dorp ry en die voertuie met die wit flitsende liggies sien kan jy gerus dankie sê, want hulle hou die dorp veilig.
In sy terugvoer het Dries de Beer die sekuriteitskameras uitgelig en bietjie meer vertel van hoe suksesvol dit is om misdadigers vas te trek en ook om tendense te bepaal.
Die aand is afgesluit met sop en brood en almal teenwoordig kon huistoe gaan met die wete dat misdadigers moet ligloop in Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’