STILBAAI NUUS - Dit gons die hele jaar lank op sosiale media oor die rigting waarin Stilbaai beweeg en wat alles vir die dorp beplan word, veral wat toekomstige ontwikkeling betref.
Die Stilbaai-gemeenskapsforum nooi inwoners om hulself met die feite te vergewis deur die forum se algemene jaarvergadering by te woon.
Senior munisipale amptenare sal tydens die vergadering terugvoer gee oor verskeie sleutelsake wat die gemeenskap direk raak. Onderwerpe wat bespreek sal word, sluit onder meer in die ontwikkeling van Hoofweg-Wes, en die Jongensfontein-verbypad, beskerming van waterbronne, asook die terugkoop van elektrisiteit.
Die vergadering vind plaas op Vrydagmiddag, 20 Februarie, in die Palinggatoord se saal, en begin om 16:00.
Inwoners word aangemoedig om die vergadering by te woon, ingelig te raak en aktief deel te wees van oplossings vir Stilbaai se toekoms.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’