STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-fynbosfees is 'n inisiatief van die Tuin-Op-Die-Brak fynbospark se komitee.
Die eerste en baie suksesvolle Stilbaai-fynbosfees het in 2023 plaasgevind en is 'n viering van die ryk fynbos en ander biodiversiteit van die area.
Die hoofdoel van die fees is om die bewaring van fynbos te bevorder deur middel van kennis en bewusmaking.
Behalwe vir die lenteloop Sondag 5 Oktober kan besoekers uitsien na die Hessequa-herbarium ope dag wat Dinsdag 7 Oktober van 11:00 in die Kliphuis by Tuin-Op-Die-Brak sal plaasvind. Die doel van die herbarium-versameling is om al die plantsoorte wat in die Hessequa-streek voorkom te dokumenteer en daar is al meer as 4 000 eksemplare gedokumenteer.
Woensdag 8 Oktober is daar die Skulpiesbaai-staptog wat by die walvisuitkykpunt bo die hawe begin. Dit strek oor en tussen die duine en loop deur 'n eeue oue melkhoutbos. Die roete is geskik vir die hele gesin.
Donderdag 11:00 gaan Andor Venter in die Kliphuis gesels oor die betowering van die voëls, die bye en veel meer en 14:00 sal Wilhelm de Beer 'n praatjie lewer oor vlinders en ander klein gediertes van die eko-web, ook in die Kliphuis.
Christina Mars lei Vrydag 10 Oktober van 09:00 tot 10:30 die Pauline Bohnen botaniese staptog om die groot aantal fynbossoorte, waarvan verskeie endemies is, uit te wys.
Saterdag 11 Oktober is dit die paleo-ekoloog dr. Jan de Vynck se beurt om van 09:00 tot 11:30 'n kort lesing in die Blombos Argeologie Museum te hou oor die oorsprong van smaak en waar fynbos inpas. Daarna is daar 'n kort staptog om die plantsoorte uit te wys.
In die Kliphuis sal Andor Venter en Naomi van Schalkwyk Saterdag van 09:00 tot 11:30 'n praktiese kursus aanbied oor tuinmaak met fynbos.
Meer volledige inligting is beskikbaar op Tuin-Op-Die-Brak se Facebook-blad en kaartjies is by Entry Ninja.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’