Update
STILBAAI NUUS - Die huidige Stilbaai-verwelkomingsbord net na Julie-se-baai het verbleik en is nie meer netjies en mooi nie. Die besluit is toe geneem dat die bord oorgedoen moet word.
Stilbaai-toerismeburo het besluit dat die gemeenskap insette moet gee oor hoe die nuwe bord moet lyk. Twee voorbeelde van hoe dit daar moet uitsien, is op hul webtuiste geplaas - een 'n kleurvolle en die ander 'n baie simplistiese bord.
Binne enkele dae het 36 000 mense die inskrywing gelees en 974 het kommentaar gelewer.
Kommentaar was selfs na die toerismeburo ingebel. Hierdie oorweldigende belangstelling het bewys dat die dorp nie slegs as leefdorp belangrik is nie, maar ook as vakansiebestemming.
Teen die afsnytyd, Vrydag, 19 November het die skaal na die simplistiese bord geswaai.
Volgens Annerise Wolmarans, kantoorbestuurder van die toerismeburo verskaf Hessequa-munisipaliteit die geld en hulle (toerismeburo) moet sorg dat die bord teen die aanvang van die vakansieseisoen oorgedoen is.
"Dit behels net die verfwerk van die huidige struktuur en sal betyds gereed wees om die talle vakansiegangers welkom te heet," het sy gesê.
Al drie karavaanparke is vol bespreek, wat beteken dat Stilbaai en Jongensfontein 'n miernes van bedrywighede gaan wees soos voor die Covid-19-pandemie.
Vorige artikel: Nuwe voorkoms vir Stilbaai verwerlkomingsbord
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'