STILBAAI NUUS - Die duisende vakansiegangers wat elke Desember op Stilbaai toesak, is vir die oorgrote meerderheid inwoners 'n welkome gesig.
Die plaaslike ekonomie kry 'n stewige hupstoot en baie besighede is grootliks van hierdie seisoen afhanklik. Vir entrepreneurs bied dit ook 'n gulde geleentheid om 'n paar rand te verdien, waarvan die meeste op een of ander manier weer terug in Stilbaai belê word.
Vakansiegangers is dikwels soos mense van 'n ander planeet sodra hulle by die N2 afdraai en verby die bootjie ry. Skielik is hulle rustiger en waag hulle dinge wat hulle nooit tuis sou doen nie - dikwels met komiese gevolge.
Hulle geniet die veiligheid en natuurskoon wat Stilbaai bied en probeer oor die algemeen om die dorp en inwoners te respekteer.
Dit is nou die laaste week van die skoolvakansie en hoewel Stilbaai merkbaar stiller raak, is dit nog lank nie rustig nie. Die laaste vakansiegangers benut steeds die heerlike weer en bring hul dae deur op die strand en langs die oewers van die Goukourivier.
Veilige terugkeer huistoe - Stilbaai sal in Desember weer gereed wees om julle te verwelkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’