SUID-KAAP NUUS - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees is op 3 Desember 2018 benoem as een van die 6 gewildste feeste in 2018. KKNK ding mee met vyf ander kunstefeeste om die kykNET Fiësta Fees van die Jaar-prys.
Die publiek het die geleentheid om hulle stemme te laat geld vir die KKNK. Die stemming het reeds op 3 Desember geopen, en sluit op 13 Januarie 2019.
Hugo Theart, die Waarnemende Uitvoerende Hoof van Kunste Onbeperk, moedig KKNK feesvriende en feesgangers aan om te stem: “Die prys word alleenlik op stemme van die publiek aangewys en ons moedig alle ondersteuners van die fees aan om die woord te versprei en ook self vir die KKNK te stem. Ná 25 jaar sal dit ’n kroon op ’n kwarteeu van kunste in die Klein Karoo wees. Elke persoon kan net een keer stem.”
Die proses is eenvoudig. Klik op die skakel en bring binne sekondes jou stem uit vir die beste fees van 2018. Die stemproses loop teen einde om middernag op die 13de Januarie 2019.
kykNET bied vir die negende jaar die Fiëstas aan. Hierdie prys het in die verlede bekend gestaan as die Gewildste Fees.
Ander benoemings vir die 9de kykNET Fiëstas sluit onder meer in plaaslike kunstenaar Danny B wat benoem is vir die Fiësta vir die Beste Musiekgedrewe Produksie: Buitelug, vir die opelug konsert Rymklets van Oos tot Wes. Danny B het sy tande geslyp by KKNK en hierdie is sy tweede opeenvolgende nominasie in dié kategorie. In dieselfde kategorie ding die opelug-konsert Boontoe! (vervaardig deur Hennie van Greunen en Pedro Kruger), waarin Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra koor (onder leiding van Elmine Bester) ook deelgeneem het, mee vir hierdie Fiësta-prys.
Die debuut musiekproduksie Lepeltjie vol snare, waarin oom Hannes Coetzee van Herbertsdale, saam met ander kunstenaars opgetree het, is benoem in die kategorie Beste Musiekgedrewe Produksie.
David Kramer ding ook om dieselfde prys mee vir sy debuut-produksie David Kramer se Platteland.
Ander benoemings van KKNK-produksies vir Fiësta-pryse sluit in: Lee Ann van Rooi (Beste Vroulike Akteur) en Albert Pretorius (Beste Manlike Byspeler) vir hul vertolkings in die KKNK en US Woordfees ko-produksie Ons is almal freaks hier; Anna-Mart van der Merwe in die debuut tragi-komedie Swerfgoed vir Beste Vroulike Byspeler; en De Klerk Oelofse as Beste Manlike Byspeler in Babbelagtig.
Babbelagtig is benoem as Beste Aanbieding, asook in die kategorie vir Beste Duo of Ensemble. In die kategorie vir Beste Musiekgedrewe produksie: Podium is beide Amanda Strydom en Lize Beekman vir hul onderskeie produksies Stadig oor die Klippers en Stilte na die Storm benoem.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'