HEIDELBERG NUUS - Nagenoeg 1 500 plaaslike inwoners asook voormalige inwoners en besoekers vanuit Kaapstad, Malmesbury en ander dorpe het die 16de aanbieding van dié dorp se jaarlikse sportdag bygewoon.
Dié jaarlikse instelling is voorafgegaan met ’n motorskou en ’n modeparade. Die begunstigdes vanjaar is die Kersfeeskoor Young Royal Shepherds.
Die dag se verrigtinge het begin met 'n groot optog vanaf die Duiwenhoks-gemeenskapsaal deur die Oos-Dorp via die sentrale dorpsgebied tot by die sportterrein.
Gerald Boezak, Hessequa-onderburgemeester, het die opening waargeneem.
Christopher September, die hooforganiseerder sedert die beginjare van 2007 af, het die spanne en alle rolspelers verwelkom vir hul volgehoue bydrae tot dié jaarlikse hoogtepunt, wat as fondsinsameling vir verskeie instansie dien. Synthia Lotz, het die verrigtinge met gebed en Skriflesing geopen.
Ralph Jacobs, skoolhoof van De Waalville Primêr, was die aankondiger vir die dag terwyl kapt. Mervyn Zana die klank en musiek verskaf het.
Benewens die rugby, waaraan slegs agt spanne deelgeneem het, was daar ook netbal, 'n motorskou en 'n modeparade.
Die verrigtinge Saterdag is met ‘n paar 4 x 100 m-pretafloswedlope afgesluit.
Cape Bentonite het die rugby gewen met Young Royal Shepherds die plaatwenners. Jameson Meyer is as speler van die dag aangewys.
Golden Fireballs het die besigheidsafdeling van die netbal gewen terwyl Island Vipers in die klubafdeling geseëvier het. Fredwin Damons is as netbalspeler van die dag gekroon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’