STILBAAI NUUS - Wat veronderstel was om 'n voorprogram vir Seagulls se ligawedstryde teen Harlequins Saterdag 30 Augustus te wees, het verander in die hoofprogram nadat die SWD-rugbyskeidsregters hulle fluitjies neergelê het uit ontevredenheid met die beslissings van tugstappe teen twee SWD-rugbyklubs en geen ligawedstryde in SWD plaasgevind het nie.
Seagulls-rugbyklub, in samewerking met Badisa Stilbaai, Stilbaai GPF en Melkhoutfontein Primêr, het rugby- en netbalklinieke by die Melkhoutfontein sportterrein gehou waarna twee skole se rugbywedstryde gevolg het.
Hestrie Prins van Badisa Stilbaai het gesorg vir 'n lekker ysbreker waarna Seagulls se afrigterskorps en spelers die rugbykliniek aangebied het.
Stilbaai GPF het met die hulp van Spar en Oasis Water seker gemaak dat daar heerlike worsbroodjies, vrugte en 'n sappie vir elkeen teenwoordig was. Alison Bryant, voorsitter van Stilbaai GPF, het hand in eie sak gesteek om alles perfek af te rond.
Die dag is afgesluit met twee vriendskaplike rugbywedstryde.
Melkhoutfontein Primêr se o.13-rugbyspan het kragte gemeet met die o.13-toerspan van Lorraine Primêr, al die pad van Rawsonville in die Boland, en het 5 - 10 verloor.
Die hoofwedstryd van die dag was tussen die o.15-spanne van Melkhoutfontein Primêr en die Wing Wave Akademie van Albertinia.
In 'n klipharde wedstryd waarin geen genade getoon is nie het Wing Wave met 22 - 5 gewen.
Stilbaai GPF het ook rugbyballe, wat Alison by SARU bekom het, aan die skole en Seagulls geskenk.
Hierdie inisiatief moet beslis die begin van vele meer wees en wie weet, dalk lewer dit eendag 'n Springbok of twee op.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’