Ek het my na die internet gewend en daar ‘n spesiale groepie mense ontdek, wat ons kom verras het met hul aanbieding. Hulle noem hulself SOC (Soldiers of Christ), maar hulle besonderhede op die web is: Spore in die Suid-Kaap.
Die opsie wat ek gekies het, was oorlewing. Iets wat ons elkeen elke dag hier op aarde moet doen, maar hoe doen jy dit in die veld? ‘n Groepie van 20 leerders het Vrydag, 17 Februarie vertrek na Oudtshoorn om ons eie spore te gaan trap in Oudtshoorn omgewing. Vanaf Stilbaai is dit ‘n lang pad, maar ‘gemeng ’n mengsel van ‘n jong gees en opgewondenheid, bereik ons dit met genoeg energie. Wat ‘n pragtige plek. As jy groot geword het in die Klein-Karoo is dit ‘n welkom tuis en my ma sê soms, jy moet hier bly om dit lief te hê. Die Klein-Karoo het sy eie bekoring. As jy hom verstaan, is dit nog mooier.
Leer om te kook:
Die eerste uitdaging van die aand was om jou eie kos te maak. In die tye waarin ons leef, maak ma die kos, kinders is voor die televisie en weet nie hoe dit daar op die bord geland het nie.
Nou ja, meisies moes roosterkoeke maak, terwyl die seuns die wors moes braai. Die grootste skok van die aand was seker om te besef dat kinders wel ‘n paar ure sonder die soettande moet klaarkom en dit waardeer wat voorgesit word. Nou ja, lekkers moes oorhandig word, maar soet was die herontmoeting op Saterdagaand.
Vier reëlings vir oorlewing:
Saterdagoggend het vroeg begin toe JJ (een van ons aanbieders) ons vinnig ingelei het in die vier reëlings vir oorlewing. Natuurlik belangrik dat mens geen sekonde sonder God kan klaarkom nie. Tweede belangrik is dat mens net 4 sekondes het om die regte besluit te neem. Dit is natuurlik hoekom die eerste reël in oorlewing God sal bly.
Pierrie, ons ander aanbieder, het ons verras met sy kennis oor die plante in die omgewing. Ons het ‘n roete gestap, waarlangs hy ons van die plante en hul unieke eienskappe vertel het. Ek was baie beïndruk deur die kinders se belangstelling. Ek kon die aand nog ‘n plantjie ophou en hulle kon onthou wat sy naam en betekenis was.
Ek dink een van die dinge wat vir die kinders die lekkerste was, was om self te probeer vuur maak en om te sien dit is moontlik. Vir my ook. JJ het ons ook geleer om rigting te bepaal, sodat ons nooit ons rigting sal verloor nie. Die moeilikste deel van die naweek was die roete wat die kinders moes stap.
Dit was regtig nie ‘n vreeslike moeilike roete nie, maar ek dink die gebrek aan ‘n seebriesie, waaraan ons so gewoond geraak het, het dit moeilik gemaak.
Vir party was dit regtig moeilik om aan jou eie genade oorgelaat te wees en dat jy nie werklik weet waar die einde van die pad is nie. Die vooruitsig van koel water in die dam was gelukkig genoeg motivering om wel die roete te voltooi. Oppad daarheen, kon ons gelukkig ook ‘n paar wilde diere van naby sien. ‘n Besondere seëning op die naweek.
Kleilat speel en potjiekos!
Wanneer laas het jy kleilat gespeel? Ek so oud as wat ek is, nog nooit nie, so die kinders ook nie. Vele pret in en om die dam. Koes hier kom nog ‘n stuk modder met spoed aangevlieg. Moeg, honger en uitgeput kon ons aansit vir ‘n heerlike hoenderpot. Gelukkig moes ons darem toe nie die plante in die veld eet nie.
Die aand is afgesluit met ‘n oulike konsert, soos net die kinders in hul onbeperkte verbeelding kan doen. Daar was nog heelwat aktiwiteite waarvoor daar net nie tyd was nie, so ons sal maar volgende keer moet opvang, want die naweek was net te kort.
Sondagoggend is ons verras met die heerlikste "brunch" voor ons die pad moes vat. Sjoe op die naweek waar almal gedink het ons gaan honger ly (na gelang van die hoeveelheid lekkergoed wat ingepak is) het ons soos konings geëet. Maar glo my daar is altyd plek vir Kentucky, so daar moes weer gestop word.
‘n Naweek wat elkeen heelwat geleer en ervaar het. ’n Groot dankie aan Lynette Marais, die organiseerder, vir ‘n heerlike suksesvolle naweek, ons maak weer so. Dankie aan die aanbieders, JJ en Pierre. Julle het spore op ons hart kom trap.

Kleilatgooi!