Gallery Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Clive Thompson, 'n Suid-Afrikaner wat in Australië woon en 'n passie het vir die argeologiese deurbrake, het twee meesterspoorsnyers van Namibië na Stilbaai gebring om te help met die uitkenning van versteende en fossielspore van duisende jare gelede.
Twee argeloë, die Kanandees dr. Charles Helm, 'n gereelde besoeker aan Stilbaai, en dr. Jan de Vynck, is tans besig teen die Suid-Kaapse kus met argeologiese navorsingswerk. Thompson het gereken dié twee spoorsnyers sal kan help met die navorsing.
#oma Daqm en /uce Ntame van die Ju/'hoansi-stam in die noordooste van Namibië is twee van net ses meesterspoornyers in die wêreld. Hulle kennis van spoorsny kom nie uit boeke nie, maar word al vir duisende jare van geslag na geslag oorgedra.
Hulle stam, wat uit ongeveer 3 000 mense bestaan, woon in 'n beskermde gebied waar hulle nog toegelaat word om op die tradisionele manier te jag. Dit is met gifpyle of hulle hardloop 'n bok moeg en dan maak hulle hom dood.
Clive se idee was dat hulle kennis van spoorsny 'n groot bate kan wees vir die werk wat Helm en De Vynck doen om terug te kyk na die lewe van ongeveer 150 000 jaar gelede. Hier word onmiddellik gedink aan Blombosgrot en ander argeologiese vondste.
FOTOGALERY: Versteende en fossielspore van duisende jare gelede ontdek
Die twee meesterspoorsnyers by spore van 'n blou wildebees, of 'n buffel, of 'n uitgestorwe reuse Kaapse zebra. Foto: Richard Webb
Hulle vyf dae lange besoek het in Stilbaai begin waar hulle vir ongeveer 12 km saam met Helm en De Vynck strandlangs vanaf Preekstoel gestap het.
Maar eerstens moes aan hulle verduidelik word dat die klomp water nie 'n rivier is nie, maar die see. Hulle het onmiddellik aan die water gaan proe.
Verder moes hulle gedagtegang so aangepas word dat hulle versteende spore en fossielspore kon interpreteer. De Vynck was beïndruk dat hulle so vinnig fossielspore van 100 000 jaar gelede kon interpreteer - net 'n bewys van hoe goed hulle werklik is.
Die voordeel is dat as 'n spoor gevind word, kan hulle baie vinnig sê watse tipe spoor dit is en daar was gevalle waar hulle die wetenskaplikes kon reghelp.
In die vyf dae wat hulle op besoek was het hulle ook by Danabaai, Brenton-On-Sea en Goukamma gewerk. By Goukamma het Linda Helm, Charles se vrou, vir hulle spore onder 'n oorhang gewys en hulle het onmiddellik gesê dat dit mensspore van 'n volwassene en 'n kind is.
In die vyf dae was daar talle sulke voorbeelde en een van hulle het genoem dat toe hulle by Brenton-On-Sea spore in 'n grot gevind het, kon hy voel en hoor hoe sy hart klop.
Die laaste dag van die besoek het hulle by die argeologiese museum in Stilbaai spandeer.
Terwyl De Vynck vir hulle vertel van die artefakte wat daar uitgestal word, het een van hulle na 'n foto teen die muur gewys en gesê dat een van die mense op die foto sy pa se pa is. Dit was nogal 'n emosionele oomblik.
VIDEO: Meesterspoorsnyers van Namibië help Stilbaai navorsers met 100 000-jaar-oue fossielspore
Dr. René Rust, 'n argeoloog wat rotstekeninge in die Klein-Karoo bestudeer, het ook van die geleentheid gebruik gemaak om vir hulle sketse van haar werk te wys en hulle kon lekker saamgesels en interpretasies maak.
Hierdie eksperiment waar die wetenskap en inheemse kennis saamspan is van internasionale belang en dit kan 'n hele nuwe dimensie gee aan die mens se soektog na wat was.
Luce Namce, #oma Daqm, dr. Jan de Vynck, Clive Thompson, Linda Helm, dr Charles Helm by Palinggat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’