ALBERTINIA NUUS - Wat begin het as 'n gewone projek, het vir Ben Hooman (63) van Albertinia byna in 'n tragedie geëindig toe hy op Maandag 27 Oktober in sy woning 'n ernstige ongeluk met 'n slypmasjien gehad het.
Ben was besig met opgraderings in sy huis toe die slypmasjien onverwags uit sy hand geruk is as gevolg van 'n spyker wat in die houtbalk versteek was en toe het hy dit instinktief met sy regterhand probeer keer, het die lem sy pols diep oopgesny.
Die wond, ongeveer 15 cm lank, het sy slagaar beskadig en selfs die been getref.
Hy het erge bloeding opgedoen en moes sowat 40 steke ontvang om die wond tydelik te sluit.
Vinnige optrede
Angie Hooman het vinnig opgetree en Ben sonder versuim na die nuwe dokter in Albertinia, dr. Dhiraj Bhana, geneem.
Bhana het saam met die Hoomans na die Albertinia-kliniek gegaan, waar dr. Juan Navarro van Riversdal-hospitaal, drie dae per week werk en die verpleegpersoneel gereed gestaan het om te help.
Dr. Bhana het tydelike S-steek-hegting toegepas om die bloeding te beperk, terwyl Navarro 'n ambulans ontbied het.
Navarro het self agter die ambulans na Riversdal-hospitaal gery om seker te maak Ben kry die nodige hulp.
By Riversdal-hospitaal is Ben gestabiliseer voordat hy na George-hospitaal oorgeplaas is vir verdere behandeling en 'n operasie.
Tot almal se groot verligting het hy twee weke ná die voorval volle beweging in al sy vingers herwin.
Die egpaar het hul diepe dankbaarheid uitgespreek teenoor dr. Bhana, dr. Navarro en die personeel van die Albertinia-kliniek vir hul vinnige en professionele optrede.
"Dr. Bhana, dr. Navarro en die verpleegsters het almal saamgewerk om Ben se lewe te red," vertel Angie.
Navarro het op sy beurt gesê dat hy beïndruk was met die span se spoedige reaksie en die kalmte waarmee Ben die noodsituasie hanteer het.
Hy het bygevoeg dat sy liefde vir geneeskunde op 'n jong ouderdom begin het nadat een van sy vriende in 'n lewe en dood situasie was, en dat hy dit as 'n voorreg beskou om die gemeenskap te dien.
"Wanneer iets verkeerd loop, moet mense so gou moontlik mediese hulp kry, maak nie saak hoe gering die besering lyk nie," waarsku Navarro.
Die Hoomans sê hulle sal die dag nooit vergeet nie - nie net oor die skrik nie, maar oor die groot dankbaarheid wat gevolg het en die goeie behandeling van elke persoon wat betrokke was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’