TUINROETE | KAROO NUUS - Dr Cecilia Klopper, ‘n medewerker van Afrikaans.com gee hierna riglyne vir die verskillende Afrikaansvraestelle.
Soos reeds genoem: Beantwoord ou vraestelle, hersien afbytgrootte gedeeltes (net wat jy per dag kan baasraak in 15 – 30 minute).
Vraestel 1 - taal-, leesbegrip- en opsommingsvaardighede.
Daar is so baie wat ’n mens deurlopend kan doen om jou taalkennis te verbeter. As jy graag ’n onderskeiding wil kry, beveel ek aan dat jy op ’n weeklikse basis regdeur die jaar aan die moeilike aspekte van Taalstudie aandag gee.
BAIE BELANGRIK: Koop so nou en dan ’n goeie Afrikaanse tydskrif en ’n koerant en lees dit.
Hoe meer jy vertroud raak met die lees van koerante en tydskrifte, aanlyn of gedrukte kopieë, hoe makliker gaan die interpretasie van vraestel 1 vir jou word – want die vraestelle bestaan letterlik uit advertensies, artikels, berigte, onderhoude, weerkaarte, spotprente, strokiesprente en infografiese materiaal, soos bv. grafieke.
Hersien AL die taalkonvensies, soos die reëls vir ontkenning, lydende vorm, indirekte rede en dies meer. Let ook op jou woordorde – so baie van ons plaas die bywoord/bywoordelike bepaling in die verkeerde posisie in die sin.
Vraestel 2 – letterkunde
Eerstens: Jou drama, kortverhaal of roman:
Goeie raad is om jou voorgeskrewe letterkundeboeke dadelik te lees en op te som. Later is dit ’n geval van hoe later hoe kwater en soms bly die lees van die roman of drama agterweë. Dan gooi jy sommer ’n klomp punte weg in die eksamen.
Begin jou drama opsom sodra jy dit die eerste dag in jou hand het. Gebruik die volgende hoofde vir jou opsomming:
- Karakters, intrige, ruimte (milieu of omgewing), tema, boodskap, gebeure, progressie.
- Volgorde van gebeure (chronologies /a- chronologies), konflik (innerlik en uiterlik), toon en stemming/atmosfeer.
- Bou van die drama: eksposisie, motoriese element, ontwikkeling, krisis, klimaks of hoogtepunt, afwikkeling, afloop of denouement en die slot.
- Maak seker dat jy weet waar elke aspek in die drama voorkom.
- Leer die vrae en antwoorde wat jy deur die jaar gedoen het.
- Maak seker dat jy weet wat die skryf van ‘n literêre opstel behels.
Gedigte:
- Ken en verstaan elke versreël van al jou gedigte baie goed.
- Ken die definisies en voorbeelde van alle digterlike aspekte, klankverskynsels, beeldspraak en retoriese middele sodat jy dit in die gedigte kan herken.
- Leer die vrae en antwoorde soos deur die jaar gedoen baie goed.
Vraestel 3: Stelwerk
Vergelyk ou vraestelle en memorandums om te sien wat elke opdrag behels.
- Hersien die Afrikaans Huistaal Departementele Hersieningsgids. Die afdeling oor vraestel 3 is baie goed uiteengesit.
Afdeling A: Opstelle
Maak seker dat jy die onderwerp reg kan interpreteer om die regte soort opstel te skryf, hetsy ’n verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel.
Gee aandag aan STRUKTUUR van jou opstel. In die treffende inleidende paragraaf moet jy sê waaroor jy gaan skryf, in die liggaam skryf jy dan ’n paar paragrawe oor verskeie punte, en in die slot skakel jy dan weer met jou inleiding en titel.
Afdeling B: Korter en langer transaksionele skryfstukke
Hier is struktuur ook baie belangrik.
- Die paragraaf
- Vriendskaplike en formele briewe (inleiding, liggaam en slot)
- Advertensie
- Boodskap
- Dialoog/ onderhoud
- E-pos
- Uitnodiging
- Gelukwensing
- Huldeblyk
- Resensie
- Koerantberig
- Agenda en notule van ’n vergadering
- Toespraak
- Informele of formele verslag
- Tydskrif- of koerantartikel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’