HESSEQUA NUUS - Onwettige spaza-winkels word landwyd een na die ander opgespoor en gesluit.
Alle spazawinkels moet op Vrydag 13 Desember geregistreer wees. Dit geld ook vir die huiswinkels in die Hessequa-streek, wat deel vorm van die groter Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Tientalle kinders het al gesterf en honderde het siek geraak nadat hulle na bewering gifbesmette peuselhappies geëet het wat by spazawinkels gekoop is.
Distriksoptrede
"Die department het 'n voedselseker-heidsplan opgestel wat in die streek uitgevoer gaan word. Dit sluit blitsoperasies, roetine-inspeksies en voedselmonitering in," sê Andrew Stroebel, die burgemeester: Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Hy sê na aanleiding van die president Cyril Ramaphosa se onlangse toespraak en vergaderings tussen verskeie rolspelers word optredes landwyd van stapel gestuur om alle spazawinkels, ander informele voedselhanteerders en sake-ondernemings, wat van eienaarskap verander het, te registreer.
Dit word met verantwoordelike samewerking tussen ander sektor-departemente gedoen.
Monitor en sluiting
Altesaam 1 335 spazawinkels het in die Tuinroete-distrik om registrasie ten opsigte van gesondheidswetgewing aansoek gedoen.
Nagenoeg 300 van dié winkels is reeds gemonitor en 75 blitsoperasies is uitgevoer. Altesaam sewentig van dié spazawinkels is reeds gesluit en verbodkennisgewings is aan nóg dertien uitgereik.
Volgens rekords is daar 103 spazawinkels in die Hessequa-streek, waarvan 102 ondernemings met wettige geskiktheidsertifikaat handel dryf en vyf tydelik gesluit is, nadat hulle self besluit het om hul sakebedrywighede te staak.
Wanopvattings
Deel van die landwye klopjagte op spazawinkels is om buitelanders, wat onwettig in die land is en sonder die nodige permitte sake bedryf, te eien.
Dorpenaars, veral in Riversdal, spreek dikwels hul misnoeë in informele gesprekke en op sosiale media uit oor sogenaamde uitlanders "wat ons werk vat en ons uitbuit". Dit is egter 'n wanopvatting.
Onlangse navorsing het bevind daar is steeds méér spazawinkels in Suid-Afrikaanse burgers se besit.
Dit is wel ook bekend dat talle SA burgers uitlanders toelaat om sake onder hul burgerskap te doen en word die klopjagte in samewerking met die departement van binnelandse sake gedryf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’