BOOSMANSBOS NUUS - ’n Rekordbrekende uitroeiingsoperasie het van 7 tot 9 November in die Boosmansbos Wildernisgebied plaasgevind, waar 21 HeliHack-vrywilligers 16 276 indringerdennebome uit die ontoeganklike bergreekse verwyder het.
Die reuse-opruiming het meer as 2 500 hektaar natuurlike habitat herstel - die grootste enkele slag teen indringerplante nóg in die gebied.
Die vrywilligers is per helikopter na die steil bergpieke geneem, waar hulle areas kon aanpak wat vir gewone veldwerkspanne onbegaanbaar is.
Die suksesvolle opruiming stel ’n nuwe rekord vir beide die aantal bome verwyder én die oppervlakte wat herstel is.
Boosmansbos is ’n beskermde Wêrelderfenisgebied en ’n kritieke wateropvangs vir die Duivenhoksdam, wat sowat 15 000 inwoners in die streek van water voorsien.
Indringerdenne, wat groot hoeveelhede water verbruik, plaas hierdie opvangsgebiede onder voortdurende druk.
Die verwydering daarvan is noodsaaklik vir volhoubare watersekerheid.
“Gesonde ekostelsels is die ruggraat van die Wes-Kaap se watersekerheid,” sê Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
“Inisiatiewe soos HeliHack berei ons provinsie voor vir die toekoms deur ons waterbronne te beskerm te midde van klimaatsverandering.”
Dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature, sê dié rekordoperasie toon die waarde van sterk vennootskappe.
“Ons vennote soos HeliHack bring unieke vaardighede na die veld en is ware ambassadeurs vir bewaring.
Hulle help ons om ekostelsels te herstel én die water te beskerm waarop duisende mense staatmaak.”
Die onlangse mylpaal bou voort op drie jaar se werk in Boosmansbos: altesaam 43 189 dennebome is sedert 2023 verwyder, en 6 380 hektaar is reeds herstel - byna 40% van die hele gebied.
Die sukses van vroeë HeliHack-toetsoperasies het in 2024 gelei tot ’n driejaar-vennootskap met CapeNature, wat intussen na vier ander natuurreservate uitgebrei is.
Die jongste sukses bevestig CapeNature se volgehoue verbintenis om die Wes-Kaap se biodiversiteit te beskerm en noodsaaklike waterbronne vir gemeenskappe en die natuur te verseker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’