STILBAAI NUUS - Die Soetfontein Senior Burger Klub van Melkhoutfontein het hulle jaarprogram Woensdag 16 Oktober afgesluit met 'n kankerbewustheid geleentheid in die Soeterus saal.
'n Klompie van hulle het al singende, opgetooi in pienk, 'n ent deur die strate van Melklhoutfontein gestap tot by die saal waar die res hulle ingewag het.
Suster Cato van der Bank van Blombos Apteek, self iemand wat 25 jaar gelede genees is van borskanker, het 'n praatjie oor gesondheid en kankerbewustheid en vroeë opsporing gelewer.
Daarna het Magda Niemand 'n baie emosionele praatjie gehad oor haar pad met kanker, hoe sy genees is en hoe dit uiteindelik in al sy felheid finaal terug is.
Linda Pietersen het haar pad met kanker en hoe sy daarmee saamleef en hanteer met die aanwesiges gedeel.
Sersant Chrissy Lewaks van die Stilbaai SAPD het 'n pragtige boodskappie voorgelees wat 'n vriendin vir haar gestuur het.
Almal wat geliefdes verloor het met kanker het die geleentheid gekry om 'n kersie aan te steek waarna David October en Joan Rossouw 'n roerende sangitem gehad het.
Kanker is 'n gevreesde siekte, maar almal het saamgestem dat dit hulle geloof is wat hulle daardeur dra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’