HESSEQUA NUUS - Seksuele aanranding:
Die onderwyser wat daarvan aangekla word dat hy 'n leerder op 30 Julie seksueel sou aangerand het, het Maandagoggend, 18 Februarie, weer vlugtig in Heidelberg-landdroshof verskyn. Sy borgtogvoorwaardes is met sy vorige verskyning verskerp nadat dit aan die hof uitgewys is dat dié misdaad 'n bylae 5-misdryf is. Hy mag nie in die dorp wees behalwe wanneer hy in die hof moet verskyn nie. Die saak is tot Dinsdag 5 Maart vir 'n finale streekhofdatum uitgestel. Die verdagte is steeds op eie verantwoordelikheid vrygelaat en is in Caledon woonagtig.
Huisbraak:
Bradley Pieters het op twee aanklagte van huisbraak verskyn nadat hy by twee wonings op Slangrivier toegang sonder toestemming verkry het. Die saak is tot Donderdag 21 Februarie uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Bestuur onder die invloed van sterk drank
'n 36-jarige man van Khayalitsha het op aanklag van bestuur onder die invloed van sterk drank verskyn. Hy is deur die provinsiale verkeer op die N2 in hegtenis geneem. Hy is op borgtog van R500 vrygelaat en moet weer op 12 April in die hof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'