RIVERSDAL NUUS - Community animal rescue services (Cars) speel 'n groot rol ten opsigte van die gemeenskap se troeteldiere.
Cars se hoofdoel is tans om diere in te ent en te steriliseer. Hulle ent slegs diere wat reeds gesteriliseer is.
Daar word dan rekord gehou van diere wat reeds ingeënt is sodat hulle dit later kan opvolg om sodoende die dier te steriliseer.
Omdat almal wat by Cars betrokke is bedags moet werk ook, is dit vir hulle moeilik om so spoedig moontlik aksie te kan neem.
Hulle wil 'n beroep op die gemeenskap doen om betrokke te raak.
Die voorsitter van Cars, Sandra Lotz sê: "Dit beteken nie jy moet op die komitee wees om 'n bydrae tot die gemeenskap te wees nie. Ek is nou wel die voorsitter, maar verder tref ek ook baie ander reëlings.
"'n Algemene jaarvergadering sal by Huis Wallace Anderson op 31 Januarie, om 19:00 gehou word.
"Die gemeenskap van Albertinia, Heidelberg, Stilbaai, Witsand, Vermaaklikheid, Riversdal en Gouritsmond word uitgenooi om dit by te woon."
Volgens Lotz is daar 'n kriteria waarvolgens mense kwalifiseer vir hulp. Sy noem ook dat: "Ons help ook mense op meriete. Die publiek moet hul inkomste, woonadres en identiteitsdokument kan lewer vir die dienste.
"Daar word ook met veeartsdienste soos siekte en beserings gehelp, maar die mense lewer 'n bydrae en ons gaan met hul 'n geskrewe ooreenkoms aan om dit af te betaal."
Vincy is 'n nuuskierige, maar gehoorsame reun.
Cars het op die oomblik mense nodig wat hulp kan verleen deur hulle oë en hande te wees wanneer daar niemand anders beskikbaar is nie.
Wat behels dit?
"Sou ons 'n probleemgeval kry, moet daar iemand wees om sit so vinnig as moontlik op te volg.
"Ons het nie daardie mense nie. Sommige van die publiek sal inskakel en dadelik optrede verwag.
Emma is 'n liefdevolle tefie wat 'n tuiste soek.
"Wanneer ons optree, kry ons baie keer nie die probleem soos hulle dit verduidelik het nie, dan verstaan hulle ook nie dat ons nie daar is om net honde of katte te verwyder nie."
Cars voel ook baie sterk daaroor dat mense opgevoed moet word. "As ons daardie hond verwyder, kry hul net 'n ander een en die bose kringloop gaan voort. Tans het ons sekretaresse en addisionele lid bedank as gevolg van werkdruk."
Daar is op die oomblik drie babahondjies in hul sorg wat wag om aangeneem te word.
Saggeaarde Bengi is ook 'n reun wat aangeneem kan word.
Daar is ook 'n teefhond met vyf babatjies wat later aangeneem sal kan word.
Indien jy by Cars betrokke wil raak, stuur 'n e-pos aan Sandra Lots by: sandralotz@telkomsa.net.
ARTIKEL & FOTO'S: SAN-MARIÉ CRONJÉ - SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'