SLANGRIVIER NUUS - Kreatiwiteit het verlede Donderdag 19 Junie hoogty gevier toe gr. 5-
tot 7-leerders by Slangrivier Primêr aan 'n spesiale kunswerksessie deelgeneem het as voorbereiding vir die jaarlikse Hessequa-kinderkunskompetisie.
Die kompetisie, wat met trots deur die biblioteke van die Hessequa-munisipaliteit aangebied word, vorm deel van 'n streekwye inisiatief om jong kunstenaars aan te moedig om hul talent en storie visueel uit te druk.
Vanjaar se tema, My Storie, gee kinders die geleentheid om persoonlike ervarings, drome en idees in kleur en vorm uit te beeld.
Hessequa-kunstenaar Louise Kluyts, wat ook deel is van die plaaslike Hessequa Art Route, het die kunsklas aangebied.
Sy het die jong leerders aan elemente van kleur, vorm en ontwerp bekendgestel - alles op 'n speelse en toeganklike manier. Volgens die betrokke onderwysers was die sessie nie net leersaam nie, maar ook 'n groot pret vir die kinders.
Die hoogtepunt van die kompetisie is die kunsuitstalling wat van 25 tot 27 September tydens die Hessequa-harmoniefees by die Heidelberg-biblioteek plaasvind.
Hier sal die inskrywings van skole regoor die streek in 'n viering van jeug, kreatiwiteit en kultuur vertoon word.
Lekker pryse is op die spel, maar die ware waarde lê in die blootstelling wat jong kunstenaars kry en die trots waarmee hulle hul werk deel.
Die projek beklemtoon ook die belangrike rol wat plaaslike biblioteke en kunsinstansies speel in die ontwikkeling van kreatiewe vaardighede onder die jeug.
Die Hessequa-kinderkunskompetisie het oor die jare 'n belangrike platform geword waar jong stemme in helder kleure praat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’