Video
HEIDELBERG NUUS - Die Hessequa Harmoniefees se program het vanoggend, Woensdag 23 September, met ’n gesprek tussen twee gesoute skrywers by die Fouriehuis afgeskop.
Riana Scheepers en PJO Jonker, landbouer, Renaissance-man en skrywer, het tydens Scheepers en Skrywers oor Jonker se debuutroman, Die Onsigbare, gesels.
Die gesprek was egter net die begin van ’n vol dag se vermaak, met musiek, woordkuns en ’n mark wat nog op feesgangers wag.
Om 11:30 tree Kaat Vanhaverbeke op akkordeon en Josie McClure op saksofoon as die NorthSouth Duo by Proeviand op.
Hul program, Van Holland tot Heidelberg, bied ’n kultureel diverse keur van onder meer Roemeense, Spaanse, Hollandse, Poolse, Balkan- en Suid-Afrikaanse musiek.
Om 15:00 verskuif die fokus na woordkuns wanneer Bettie Kemp TaMiem van Swellendam by die Congregational Kerkie aanbied.
Dié produksie neem die gehoor op ’n reis deur die lewe van een van Suid-Afrika se merkwaardige vroue, MER.
Die gratis dagmark en basaar begin om 16:00 by die NG Kerksaal.
Een van die hoogtepunte van die dag is die ATKV Galakonsert om 18:00 in die NG Kerk.
Minette du Toit Pearce, Paulina Malefane, Corneil Muller en Elna van der Merwe deel die verhoog met die Windworx Simfoniese Blaasorkes en ’n feeskoor.
Die dag se verrigtinge word vanaf 19:15 met ’n gratis nagmark en basaar by die NG Kerksaal voortgesit.
Video: Ben Snyman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’