RIVERSDAL NUUS - Riversdallers het vanmiddag behoorlik gevoel wat dit beteken wanneer mense sê: “Dis warm vandag.”
Teen ongeveer 13:00 het temperature in die dorp skerp gestyg, met ’n motor se temperatuurmeter wat ’n verstommende 43,5°C aangedui het.
Die uiters warm toestande word toegeskryf aan ’n hittegolf wat groot dele van die Wes-Kaap sedert vroeg hierdie week tref.
Volgens die weerburo word baie warm tot uiters warm temperature tussen 36°C en 42°C in verskeie dele van die provinsie verwag, met die hittegolf wat deur ’n stadige hoëdrukstelsel in die atmosfeer veroorsaak word.
Inwoners word aangeraai om voorsorg te tref gedurende die warm toestande. Bly waar moontlik in die koelte, drink genoeg water en vermy swaar buitelugaktiwiteite gedurende die warmste deel van die dag.
Daar word ook gevra dat mense seker maak diere het genoeg vars water en skadu om hulle teen die hitte te beskerm.
Weervoorspellers meen die hittegolf behoort teen Saterdag te begin afneem, waarna meer gematigde en gunstiger weerstoestande verwag word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’