RIVERSDAL NUUS - Die kroningsplegtigheid van Riversdal se skoukoningin en prinsesse het op 30 Januarie tydens die glansryke Rola Ford-skoudans, plaasgevind.
Dit was 'n aand wat deur elegansie, dans en 'n feestelike gees gekenmerk is.
Die geleentheid het 'n gesellige atmosfeer geskep waar gaste 'n stylvolle aand vol vermaak geniet het.
Die program is afgerond met 'n heerlike driegangmaaltyd, wat tot die luukse karakter van die aand bygedra het.
Michelle Oosthuizen (18) is as Riversdal se nuwe skoukoningin gekroon, met Lisa Higgs (21) as eerste prinses en Danica Claassen (18) as tweede prinses.
Die skoudans het oud en jonk bymekaar gebring en was 'n ware viering van skoon-heid, selfvertroue en gemeenskapsgees.
Die aand word as 'n hoogtepunt op Riversdal se sosiale kalender beskou.
Suid-Kaap Forum het in 'n telefoniese onderhoud met Riversdal se nuutgekroonde skoukoningin, Michelle Oosthuizen, gesels oor haar ervaring, haar nuwe rol en haar boodskap aan die gemeenskap.
Oosthuizen sê die oomblik toe haar naam aangekondig is, was een wat sy nooit sal vergeet nie.
"Toe hulle my naam uitroep, het ek 'n vloed van trots gevoel - nie net vir myself nie, maar ook vir almal wat in my glo en my modelloopbaan ondersteun het.
Dit het my daaraan herinner dat drome wel waar kan word wanneer 'n mens toegewyd en eg bly," het sy gesê.
Sy verduidelik dat die titel vir haar 'n diep persoonlike betekenis het.
Volgens haar wys dit dat 'n mens altyd bereid moet wees om nuwe dinge aan te pak sonder vrees.
"Dit is vir my belangrik om die gemeenskap se naam hoog te hou en 'n rolmodel vir jongmense te wees," het sy bygevoeg.
Oosthuizen beskryf die jaarlikse skoudans as 'n belangrike geleentheid vir Riversdal.
"Dit bring mense van die gemeenskap bymekaar waar almal hul tyd kan geniet en onvergeetlike herinneringe saam kan maak," sê sy.
Haar boodskap aan jong meisies is een van selfvertroue en hoop.
"Weet dat jou stem saak maak, jou drome geldig is en jou krag onbeperk is.
Glo in jou idees, koester jou talente en omring jouself met mense wat jou hoër lig," het sy aangemoedig.
As Riversdal se skoukoningin vir die jaar sien Oosthuizen daarna uit om die skou vanuit 'n nuwe perspektief te beleef.
"Ek sien uit daarna om die skou op 'n ander manier te ervaar, om mooi te voel - selfs al beteken dit om heeldag in hakke te loop - en om ander aan te moedig om volgende jaar deel te neem en hul eie drome na te jaag," het sy afgesluit.
Riversdal-Skou vind van 18 tot 21 Februarie plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’