HEIDELBERG NUUS - Die Albertinia- en Riversdal-buurtwag van AfriForum se tak in Hessequa het vroeër vandeesmaand na hul buurdorp, Heidelberg, uitgereik en ’n massapatrollie in samewerking met ander veiligheidsrolspelers gehou om die strate veiliger te maak.
Die patrollie het vyf ure geduur waartydens die westelike en oostelike dele van Heidelberg en Slangrivier gepatrolleer is.
Altesaam 26 lede van die SAPD in Heidelberg, die Community in Blue in Heidelberg, TFR Security en AfriForum-strukture het aan die patrollie deelgeneem. Gedurende die patrollie is 13 mense deursoek en die polisie het op verskeie skerp voorwerpe beslag gelê.
“Die patrollie was ’n reusesukses en ons is dankbaar vir die goeie verhoudings wat tussen alle betrokkenes gekweek is. Ons bedank elke persoon wat hulle tyd opgeoffer het om deel te neem aan die patrollie,” het Vivian Louwrens, voorsitter van AfriForum se Hessequa-tak, gesê.
“Dit is vir AfriForum van kardinale belang om sigbaarheidspatrollies te doen om die veiligheid van die gemeenskap te bevorder en misdaad hok te slaan. AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer,” aldus Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Om by AfriForum-strukture in Hessequa aan te sluit, stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’