STILBAAI NUUS - Ná ‘n sorgelose dag op die strand, kan jy jou vingers vinnig deur jou hare trek, ‘n stuk vrolike lap om jou songestreelde lyf tooi en by die gemeenskapsaal gaan inloer vir 'n skemerkunspartytjie..
Daar nooi die sameroeper Marisa de Lange en nóg 22 kunstenaars van die Hessequa-kunsroete se oor die 100 kunstenaars jou om die vierde jaarlikse streektentoonstelling in dié skilderagtige kusdorpie saam met hulle kuier-kuier te vier.
Jy kan halfsewe vanaand die opening van die ‘Kuierkuns’-projek, ter stuwing van die streek se toerisme bywoon.
Loer tog op pad soontoe net by die Geel Mossie in Riversdal en by Verandah in Stilbaai om jou skemergenieting te bespreek.
Naas koue drinkgoed en ‘n glasie wit of rooi wyn, word daar ook allerlei sout en soet versnaperinge, ‘n verskeidenheid koue vleiskeuses en Kasselhoopkaas-peuselhappies en smullekker doopsouse bedien.
Die skilder en sangeres Brenda Thomas (op klawers deur Johan Erasmus begelei) bied ‘n kabaretvertoning in die kleine aan.
Toegang is die res van die naweek gratis en dan kan vakansiegangers sommer kaalvoet en met ‘n handdoek om die lyf by die saal inloer, die kunstenaars ontmoet en lekker informeel kuier en ‘n ietsie te ete en drinke geniet.
Naas skilderye en sketse in akriel, olieverf, waterverf, potlood en steenkool, is daar vanjaar ook ‘n stewige aanbod van fotografie, keramiekkuns en beeldhouwerk.
Drieuur Satermiddag lees die fotograaf Willie Shoombee en die kunstenaar Brenda Thomas gedigte voor wat hul kuns belig. Die skilder en skrywer Louwena Kotzé sal ook uit haar jongste boek voorlees.
Vrydag en Saterdag van tienuur die oggend tot sesuur die aand; Sondag van 10:00 tot 13:00. Die toegang is gratis.
Dié kunstentoonstelling duur tot 8 Desember.
* Sonja Margerison het in 2021 die weelderige Privelistia-tentoonstelling behartig, gevolg deur Anita McLauglin se swierige aanbiedings; eers by Privelistia en by die olyflandgoed Kleinbergskloof verlede jaar.
Dit was nog elke jaar 'n reuse-sukses en tel tussen die hoogtepunte op die Hessequa-toerismekalender in Desember.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’