Update
HEIDELBERG NUUS - Oestyd in die Hessequa-streek en veral in Heidelberg word gekenmerk deur groot vragmotors wat deur die strate dreun.
Hulle vervoer honderde vragte graan na die silo's aan die bopunt van die dorp.
Oestyd begin gewoonlik die laaste week in September en eindig so einde Desember.
Graanboerdery dek die gebied vanaf Heidelberg met die N2 af tot in Caledon en vanaf Heidelberg anderkant toe, met die N2, tot by Herold naby George. Saaiboerdery maak ongeveer 70% van bedrywighede uit. Moutgars is die primêre produk, gevolg deur koring en kanola.
Vir die oeste is daar graanopbergingsdepots in Swellendam, Heidelberg, Karringmelks-rivier, Protem, Krombeksrivier, Ashton, Riversdal, Albertinia en Herold. Die grootste hiervan is Swellendam, gevolg deur Karringmelksrivier, Heidelberg en Krombeksrivier wat min of meer dieselfde kapasitieit het.
Wat gebeur as die swaargelaaide vragmotor by die graanstoor aankom? Die koring word eers gradeer, dan geweeg en gedokumenteer. Daarna word dit gedroog, skoongemaak, gekondisioneer en berook. Laastens word dit opgeberg tot dit na 'n verbruiker of meulenaar vervoer word. By die meulenaar word dit gemaal tot meel. Die meel word verpak en ons koop dit in die winkel om 'n ouma-broodjie mee te bak.
Henry Gale, Suid-Sentraal Koöperasie-bestuurder: Graan met wie Suid-Kaap Forum oor die oestyd gesels het, sê: "Elke bietjie graan wat gelewer word deur van groot tot klein kommersiële boere, het 'n positiewe uitwerking op die gemeenskap en plaaslike ekonomie. Die 2019/20 oes-inname is deur droogtetoestande gekenmerk, wat 'n beduidende invloed op die standaard en opbrengs van graan het. Met die min reën van die afgelope seisoen is dit verblydend dat daar wel 'n gemiddelde opbrengs in sekere gebiede is.
"Die verwagting was dat dit amper 'n totale misoes kon wees - ons is dankbaar dit is nie so nie."
En ons? Ons is dankbaar dat daar brood in die kas is.
Dis heel dag by Heidelberg se graansilo besig. Foto: Alex Marshall, korrespondent
Lees 'n vorige artikel hier: Oestyd in Heidelberg
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'