RIVERSDAL NUUS - Die dorp mag ‘n nuwe supermark kry!
“Die gemeenskaplike Eden-beplanningstribunaal het die aansoek goedgekeur om hersonering ten einde ‘n supermark te ontwikkel,” bevestig Didi Budricks, woordvoerder van die Hessequa-munisipaliteit.
Die besluit volg nadat Suid-Kaap Forum in Julie vanjaar al berig het dat die kettingwinkelgroep Shoprite bevestig het dat ‘n tak nog dieselfde maand in Riversdal sou oopmaak.
Sedertdien is baie keuses en regte gedemp. Geld en tyd is onoordeelkundig en onnodig verkwis - en werksgeleenthede, inkomste, menswaardigheid is onherwinbaar verlore.
Want Louis Jones, die perseeleienaar en eiendomsontwikkelaar, se aansoek om die ou Handelshuis-gebou in D’urbanstraat (agter Kerkstraat) te ontwikkel, is deur die Hessequa-munisipaliteit na ‘n onafhanklike oorsigtribunaal - oftewel die gesamentlike Eden-beplanningstribunaal - vir ondersoek na geskikte volhoubaarheid verwys.
Die aansoek is afgekeur. Weer en weer, appèl ná appèl.
Die grootste besware volgens die tribunaalverslag, was blykbaar dat die voorgestelde ontwikkeling 'n negatiewe impak op die omliggende omgewing kon hê, en die regte en geriewe van die omliggende eiendomseienaars - gegewe die feit dat geen parkeerplek en af- en oplaaigeriewe by die perseel verskaf kon word nie - sou benadeel.
Dorpenaars het dié verweer verwerp. Hulle het hul stem laat hoor en van die dorp se 12 000 geregistreerde stemgeregtigdes het sowat 2 000 ‘n petisie ter ondersteuning van ‘n Shoprite-winkel onderteken. Dit het ook behoorlik op sosiale media gegons en die meeste mense het daarop aangedring dat Shoprite in Riversdal gevestig word.
Talle kundiges het hul kennis met moontlike oplossings aangebied. Louis Jones, wat destyds in Stilbaai grootgeword het en aan Hoërskool CJ Langenhoven in Riversdal gematrikuleer het, was egter koelkop oor die realiteite.
“’n Professionele span - met grondgebruikprokureurs, verkeersingenieurs en stadbeplanners - het die appèlaansoek geformuleer. Dit moet nou, volgens munisipale regulasies, oorweeg word. Daar lê ‘n kritiese wagtyd tot welslae voor.”
Mense het die sogenaamde “sakemafia” - wat ontwikkeling in Riversdal stuit - en selfs munisipale amptenare, wat kwansuis omkoopgeld sou aanvaar het om dié projek te stuit, vergruis. Die munisipaliteit het dié ongegronde aantygings met minagting verwerp.
Deurentyd was daar enkele beswaarmakers wat kommentaar gelewer het en beslissings bemoeilik het en die verloop van die 21-dae prosesse keer op keer moes laat uitspeel. Bloot oor eiegewin-beskerming en moontlike ‘n burokratiese rompslomp om finaliteit te bepaal.
Uiteindelik hét dit.
En nou, ná ses maande se ondersoeke, onderhandeling, aanbevelings en oplossings, kry Riversdal ‘n supermark-handelsmerk van wêreldklas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’