RIVERSDAL NUUS - Wat in 2008 as 'n klein advertensie in die Suid-Kaap Forum begin het, het gegroei in 'n 17 jaar lange stryd teen dieremishandeling, verwaarlosing en onkunde.
Vandag is hierdie plaaslike dierewelsynsgroep een van die min organisasies in Suid-Afrika wat volgehou het teen alle kanse - met slegs 'n handvol vrywilligers, maar 'n lêer vol van suksesverhale.
Community Animal Rescue Service (Cars) het verlede week hulle 17de bestaansjaar gevier en Sandra Lotz het aan Suid-Kaap Forum die reis beskryf.
Die begin
Dit was op 8 Augustus 2008 toe drie vroue - Sandra Lotz, Lena van den Heever en Sue Murphy - by Enya's in Riversdal gaan sit en wag het vir ander wat sou opdaag. Niemand het gekom nie.
En tog, sê Lotz, het hulle daardie dag besluit: "Ons gaan nie wag vir hulp nie. Ons gaan begin."
Die eerste jare was rou.
Hulle stap deur woonbuurte en kom af op tonele wat jou keel laat toetrek: presidensiële lyfwaghonde in slegte toestand; klein, uitgeteerde hondjies aan kort kettings; diere wat op plase sonder kos of water agtergelaat word.
Katte en honde wat onbeheersd aanhou teel.
"Met die hulp van die munisipaliteit is die eerste massasterilisasie gereël.
Dit was 'n groot waagstuk - mense het nie geglo in sterilisasies nie, en baie was bang hulle diere sou nie terugkom nie.
Maar die dag toe dr. Hilldidge Beer van Ebervet CVC by die Riversdal Blues-rugbyklub die eerste sterilisasiekliniek gehou het, het alles verander.
"Honde en katte het ingekom en uitgegaan - elkeen veilig terug by sy eienaar," onthou sy.
Uithouvermoë
"Toe Lena en Sue in 2012 verhuis, het die organisasie amper in duie gestort.
Tog is daar volgehou - dikwels net met een of twee mense wat alles dra.
Vrywilligers was skaars; die hartseer van verwaarloosde diere te swaar vir baie."
"Daar was ook groot oorwinnings. In 2018 finansier Dancers Love Dogs die sterilisasie van 600 diere in Hessequa.
In 2019 volg nog 131 diere in net twee dae - saam met Four Paws SA en African Tails.
In 2023 word 176 diere in drie dae deur Namaqua Dog and Donkey Foundation gesteriliseer.
"Tog is die behoefte steeds groter as die hulp," sê Lotz.
"Mense kla oor honde op straat, maar min is bereid om een in te neem tot 'n huis gevind word," sê sy.
"Ons het 'n eie skut, maar dit gaan nie die kern van die probleem oplos nie - mense moet verantwoordelik wees vir hul eie diere."
Haar droom
Dat elke dier in Hessequa 'n mikroskyfie, inentings en 'n sterilisasiesertifikaat het. Dat niemand mag teel sonder 'n lisensie nie. En dat meer mense hulle harte en hande sal oopmaak.
Trane en sukses
"Oor die jare was daar oomblikke wat die trane laat vloei het - 'n swart sak met hondjies langs die N2 wat gered word en in liefdevolle huise beland.
'n Katjie van die ashoop wat vandag op 'n sagte bed in Constantia lê. Honde wat van kettings in stowwerige agterplase af kom, nou saam met hul eienaars op die strand draf.
"Ons het met rasse skrede gegroei," sê sy.
"Maar ons kan nie alleen nie.
Ons het ons gemeenskap nodig - elke hand, elke hart. Want vir die diere maak dit die verskil tussen lewe en dood."
Die realiteit
Sedert 2008 veg 'n klein span vrywilligers onverpoos teen dieremishandeling en verwaarlosing in Hessequa.
Hulle het duisende diere gesteriliseer, honderde gered en talle in liefdevolle huise geplaas - maar sonder meer hulp van die gemeenskap kan hierdie stryd nie gewen word nie.
Sy sê in een berig kan mens nie verduidelik hoeveel diere Cars al behandel het nie, maar dit is duisende!
Ironie
"Dit is ironies dat na 17 jaar ek vandag met 17 honde by my huis sit wat ek na omsien."
Vir meer inligting, hulp of donasies kontak Sandra Lotz by 082 962 1831.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’