STILBAAI NUUS - Die opwinding was groot toe Seagulls-rugbyklub Vrydagaand, 4 April, hulle nuwe truie en uitrusting vir die 2025-seisoen tydens ’n geleentheid in die Melkhoutfontein-gemeenskapsaal onthul het.
Hocatt, ’n maatskappy wat spesialiseer in alternatiewe gesondheidsorg deur middel van onder andere osoonbehandelings, het rugbytruie, wedstrydbroeke, kouse en rugsakke aan die klub geskenk en Mike Smith het dit namens Hocatt oorhandig.
Volgens Smith is hy ’n man van min woorde is, maar dat dit vir hulle ’n voorreg is om Seagulls by te staan en hulle hoop dat hierdie gebaar ’n positiewe invloed gaan hê op en van die veld.
Marlin Jansen, voorsitter van Seagulls-rugbyklub, het Hocatt op sy beurt bedank vir hierdie groot gebaar, want sonder borge kan ’n rugbyklub eenvoudig net nie meer bestaan nie.
Seagulls het in 2024 gekwalifiseer om in 2025 in die SWD Superliga A mee te ding, ’n historiese oomblik in hulle geskiedenis, maar dit sal ook groter eise aan hulle stel en daarom is borge soos Hocatt uiters belangrik om saam met hulle ander borge dit vir hulle moontlik te maak om op hierdie vlak te presteer.
Ondersteuners gaan hierdie jaar die voorreg hê om spanne soos Progress en Crusaders van George, Evergreens van Pacaltsdorp, Barbarians van Mosselbaai, Groot-Brakrivier en Riversdal Blues te sien speel in Melkhoutfontein, maar Seagulls gaan ’n volgepakte stadion nodig hê in hierdie taai liga.
Die eerste tuiswedstryd is Saterdag 12 April teen Progress, die gedugte span van George, en daarna speel Blues op 10 Mei in Melkhoutfontein.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’