Update
TUINROETE NUUS - Sowat twee miljoen meisies in die streek het die afgelope ses jaar entstof teen die menslike papiloomvirus (MPV) ontvang.
Die virus is die grootste oorsaak van servikskanker, die tweede algemeenste naas borskanker.
Die inentingsveldtog word vanjaar vir die sesde keer gedoen. Skoolverpleegkundiges sal alle openbare skole in die gebied tussen 11 Februarie en 20 Maart besoek om meisies van nege jaar en ouer in te ent. Meisies en seuns sal ook teen klem-in-die-kaak en witseerkeel ingeënt word. Die diens is gratis.
"Die Wes-Kaap departement van gesondheid moedig ouers en versorgers aan om die immuniseringsveldtog teen die MPV, asook 'n inspuiting om kinders teen klem-in-die-kaak en witseerkeel te beskerm, te ondersteun," sê Nadia Ferreira, die departement se woordvoerder.
Noodsaaklik
Volgens Ferreira word tot 80% van alle vroue in hul leeftyd met hierdie virus wat tot 99% van alle servikskankers lei, besmet. "Een uit elke 26 vroue in die land kry die tipe kanker en omdat dit gewoonlik nie vroeg genoeg opgespoor word nie, eis dit baie lewens."
Die MPV-entstof is 'n veilige voorsorgmaatreël en wanneer dit op so 'n jong ouderdom toegedien word, kan die liggaam 'n sterk weerstand daarteen opbou.
Elke meisie kry vyf tot ses maande uit mekaar twee inspuitings.In vorige veldtogte is dit aan gr. 4-meisies van 9 jaar of ouer toegedien, maar vanjaar word dit uitgebrei na gr. 5-meisies om sodoende meer meisies wat later in die jaar verjaar, in te sluit.
Toestemming
Entstowwe en aanvullings kan slegs toegedien word indien ouers of versorgers toestemming gee. Dis belangrik dat ouers of versorgers die toestemmingsvorms wat vooraf by die skool uitgedeel word, teken en terugstuur na die skool voordat die veldtog begin.
Rhona Irving, skoolgesondheidsverpleeg-kundige, het al baie kinders tydens haar loopbaan ingeënt."Dit bly vir my lekker om 'n diens aan ons kinders - ons toekoms - te bied.
"Dit maak my ook hartseer wanneer kinders nie die nodige toestemming vir die inentings van die huis af bring nie want ek weet hoe 'n belangrike rol dit in hulle gesondheid speel," het sy gesê.
Vir meer besonderhede oor die MPV-veldtog, besoek https://www.westerncape.gov.za/general-publication/hpv-vaccinations
Rhona Irving en haar span saam met die gr. 4's van Kwanokuthula Primêre skool in Plettenbergbaai.
IN SHORT
Parents are encouraged to sign the consent form which would allow school nurses to vaccinate their daughters of nine years and older against the human papiloma virus, one of the biggest causes of cervical cancer. Girls and boys will also be vaccinated against diphtheria and lock jaw from 11 February to 20 March.
Lees 'n vorige artikel: Inenting red lewens
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'