Update
ALBERTINIA NUUS - Sakevroue is Donderdag 4 April meer vertel oor sakegeleenthede in die Garden Route-distriksmunisipaliteit.
Memory Booysen, burgemeester van Garden Route-distriksmunisipaliteit, was die hoofspreker tydens die High Tea for Business Women wat deur die Democratic Alliance Women Network (DAWN) in die dienssentrum aangebied is.
Plaaslike gevestigde en opkomende sakevroue is tydens die funksie oor geleenthede en ondersteuning op al die regeringsvlakke ingelig.
Booysen het vertel hoe van sy onderwysers vir hom vertel het hy sal nooit suksesvol wees nie. "Mense glo wat oor hulle uitgespreek word, maar diep in my binneste het ek geweier om dit te glo en ek het al die geleenthede aangegryp." Hy het verduidelik watter rol die distriksmunisipaliteit se departement van plaaslike ekonomiese ontwikkeling speel om klein- en mediumgrootte ondernemings te help, wat op hul beurt werksgeleenthede skep. "Die distriksmunisipaliteit het die afgelope jaar meer as R1 miljard se beleggings na die Tuinroete gelok," het hy gesê.
Die distriksmunisipaliteit het ook R1,2 miljoen van die departement van gemeenskapsveiligheid ontvang wat tot die beskikking van geregistreerde buurtwagte gestel word sodat hulle toerusting kan aankoop. Connie Dalton, 'n plaaslike bemarker, het gepraat oor emosionele intelligensie by werkgewers wat hul eie waarde moet ken ten einde hul werknemers met die nodige respek te kan behandel. "Dit lei na 'n produktiewe en gesonde werksomgewing," het Dalton gesê.
Volgens Tinka Small, voorsitter van Albertinia-museum, is besluit dat 2019 Albertinia se Jaar van die Vrou is. Die tema dien as fondsinsamelingsprojek vir die museum, maar bemark ook besighede en die dorp as toerismebestemming.
Charlotta Lamprecht, uitvoerende hoof van Henque Waste, het gepraat oor die belangrikheid van herwinning. Sy het vertel hoe sy daarby betrokke geraak het en wat die status van dié onderneming na 12 jaar is. Volgens haar genereer die onafhanklike entrepreneurs wat weggooigoed versamel en verkoop 'n inkomste wat hulle in staat stel om hul gesinne te versorg.
Lees 'n vorige artikel hier: Memory ontmoet Albertinia se sakevroue
Van links: Leah Coetzee, Rita Britz, Elize Oosthuizen, Antoinette Holtrop, Memory Booysen, burgemeester van Garden Route-distrikmunisipaliteit, Lettie Pretorius, Hettie Janse van Rensburg, Dollie Coetzee, Marietjie Coetzee en Fran-ha Janse van Rensburg.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'