Update
RIVERSDAL NUUS - Die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby is die afgelope naweek (2 tot 4 Oktober) met oorgawe ten toon gestel en wat 'n pragvertoning was dit nie.
Vir drie dae is Hoër Landbouskool Oakdale se rugbyvelde in 'n bruisende arena van talent, trots en brute krag omskep toe van die land se beste o. 12-spelers mekaar die stryd aangesê het tydens die jaarlikse interprovinsiale rugbytoernooi.
Van die eerste afskop op Donderdag tot die laaste fluitjie op Saterdag geblaas is, was dit duidelik: junior rugby in Suid-Afrika is kerngesond, lewendig, sterk en gevul met jong drome wat wag om bewaarheid te word.
Elke skrum, elke dryfmaal en elke drie het getuig van 'n land wat sy sport met erns aanpak - van 'n klein dorpie soos Zoar tot by groot stede soos Kaapstad en Gqeberha.
Meer as 30 wedstryde is oor die naweek gespeel en die gehalte van spel het elke toeskouer laat besef dat die land oorvloedig geseënd is met talent.
Die jong spelers het gehardloop, aangeval en verdedig met die passie van seuns wat weet hulle dra nie net 'n nommer op hul rug nie, maar 'n droom op hul skouers.
Die toernooi het nie net as hoogtepunt op die plaaslike sportkalender gedien nie, maar ook as 'n belangrike visier vir die toekoms. Keurders en talentsoekers het stelling ingeneem, penne gereed, oë skerp - op soek na die volgende generasie Cravenweek-sterre en toekomstige hoërskoolhelde.
Volgens die organiseerders was die doel eenvoudig, maar betekenisvol: om jong talent 'n ware platform te gee waar hulle kan wys wat in hulle steek en vlakke van hul borrelende uitnemendheid verder geslyp kon word.
Vanjaar se toernooi het drie spanne elk van die WP, SWD, Oos-Kaap en Grens gelok, terwyl Namibië en Boland elkeen twee spanne gestuur het.
Die verskeidenheid in speelstyl en taktiek het elke wedstryd 'n unieke karakter gegee - van hardnekkige verdediging tot vlugvoetige aanvalle en taktiese skopwerk wat die toeskouers soms op hul voete gehad het.
Die SWD-spanne het gemengde welslae behaal, maar beïndruk met hul kanniedood veggees. SWD se A-span het teen die WP met 7 - 35 verloor en ook twee naelskraap nederlae teen Grens met 12 - 14 en Boland met 10 - 12 gely.
Spelers wat beslis die oog gevang het, was die kaptein, Nickyle Augustus (Laerskool Laurus in Oudtshoorn), die onderkaptein Llyle Titus (Laerskool Laurus), Alexander Helberg (Laerskool George-Suid) en Charles Cupido (Laerskool Sacred Heart in Oudtshoorn).
SWD se B-span het puik gevaar en die OP met 15 - 5 geklop, vir Grens met 24 - 17, die OP Olifante met 15 - 10, maar met slegs twee punte met 15 - 17 teen Boland verloor.
Die skeidsregter en sy twee lynregters het 'n glips begaan toe hulle 'n onsuksesvolle doelskop wel toegeken het anders was dit 'n gelykopuitslag.
Die groot uitblinkers was Jordan van Rooyen (Laerskool Knysna), Aiden Campher (Laerskool PJ Badenhorst in Oudtshoorn), Avaro Potgieter (Laerskool Park in Mosselbaai) en Ferdi Coleman (Laerskool George-Suid).
Die boodskap uit Riversdal was duidelik: Suid-Afrikaanse rugby is nie net kerngesond nie - dis in uitstekende hande.
Die belofte van môre se rugbyhelde het in Riversdal hul eerste groot treë gee. Hierdie toernooi was meer as net wedstryde; dit was 'n herinnering aan waarom Suid-Afrika se rugbyhart steeds so kragtig klop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’