STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Kapgroep onder leiding van Deon Begemann veg 'n verbete stryd teen indringerplante in en rondom Stilbaai. Wat hulle veral besig hou is die Rooikransbome (Acacia Cyclops), in die volksmond ook bekend as die kuswattel, baaibos, hoenderboom of rooipitjie.
Dit is 'n indringerplant wat in die 1830's vanaf Australië na Suid-Afrika ingevoer is om sandduine te stabiliseer. Die plant het vinnig versprei deur groot hoeveelhede sade te produseer met vlesige rooi saadhouers wat diere lok en sodoende die verspreiding bevorder.
Rooikrans dring inheemse plantegroei binne en oorskadu dit. Dit floreer in voedingstofarm grond en ná veldbrande - wat dit selfs kan vererger - en veroorsaak verdere skade aan plaaslike ekostelsels.
Die plant se vinnige groei en aanpasbaarheid maak dit 'n ernstige bedreiging vir biodiversiteit en uiters moeilik om uit te roei sodra dit gevestig is.
Die Kapgroep het Saterdag 14 Februarie bymekaar gekom om die sensitiewe kalksteenrant oorkant die gholfklub se hek te takel en dit was teleurstellend om te sien hoe min mense opgedaag het.
Dit was egter verblydend om te sien met hoeveel entoesiasme die paar vrywilligers die taak aangepak het.
Die prys van vleis maak dit moeilik, maar diegene wat nie meer kan kap nie moet soveel as moontlik met rooikranshout braai om darem hulle deeltjie te doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’