Update
STILBAAI NUUS - 'n Gewapende roof by Rehoboth Mini Mark in Tinktinkiestraat in Melkhoutfontein op Sondag 13 Augustus het tot hewige protesaksie in die area gelei.
Volgens die polisie het vier mans, gewapen met vuurwapens en messe, die minimark na 19:00 binnegegaan en Batumeo Butao, wat agter in die winkel was, met 'n pistool geslaan en grond toe gedwing.
Klante, waaronder drie dogtertjies, is ook met pistole teen die kop beveel om plat te lê.
Nadat die mans vir Daniel Erango, wat agter die toonbank was, met 'n pistool geslaan en met 'n mes in die agterkop gesteek het, het hulle met 'n onbekende bedrag geld op die vlug geslaan.
Die kinders was histeries en gemeenskapslede is vinnig na die winkel om hulp te verleen.
Renee Davids, wyksraadslid vir Melkhoutfontein was ook op die toneel en het een van die kinders wat erg getraumatiseer is, saam met die beseerdes in die ambulans gelaai. Die beseerdes en die kind is intussen weer uit die hospitaal ontslaan.
Volgens kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie, is hulle ondersoek goed op dreef en is hulle vasbeslote om die skuldiges aan die pen te laat ry.
Dié aanval is die eerste gewapende roof van 'n onderneming in Melkhoutfontein.
Rehoboth Mini Mark in Tinktinkiestraat, waar die rooftog plaasgevind het.
Na die roof het gemoedere hoog geloop en gemeenskapslede het opgeruk na die tydelike noodbehuising wat deur die munisipaliteit opgerig is vir mense sonder huise.
Petrolbomme en klippe is gegooi en die oproer het sporadies voortgeduur tot ongeveer 01:00 Maandagoggend. Toe inwoners Maandagoggend wou gaan werk, het 'n groep mense egter die pad versper en toe is die gort weer gaar. Bande is gebrand en klippe is gegooi.
Francina Waterboer, wat werk by Ouma Lena se huis, sê toe sy wou gaan werk het mense in die straat saamgedrom en met kapmesse teen haar heining geslaan. Sy het egter besluit sy sal wys sy is nie bang nie en het gaan werk.
Johannes Riddles, 'n bekende in die gemeenskap, sê hulle is moeg vir misdaad wat gekom het met die instroming van mense van buite na Melkhoutfontein.
Hy beklemtoon veral prostitusie en dwelmhandel. Hy voel dat hulle in die steek gelaat word, want daar word niks aan die probleem gedoen nie.
Teen 09:00 Maandagoggend het talle vroue in Rooipitjieweg gewag dat die geweld bo in Tinktinkielaan bedaar voordat hulle dit gewaag het om na hul huise terug te keer.
Die Openbare Orde-polisie van George het Maandag opgedaag om ook 'n wakende oog te hou.
Gemeenskapsleiers het die gemoedere kalmeer en 'n gespanne stilte in Melkhoutfontein het gevolg met vrese dat die kruitvat kan ontplof.
Tefera Domboba van Ethiopië, eienaar van die Rehoboth Mini Mark, woon al 10 jaar in Melkhoutfontein en dit is die eerste keer dat hy 'n gewapende rooftog hier beleef. Hy sê dit is normaalweg 'n baie stil dorpie en dat net 'n klein groepie misdadigers moeilikheid maak.
Tefera sê dat dit hom nou 'n tyd gaan vat om sy verliese op te maak, maar hy wil die gemeenskap bedank vir hulle kragdadige optrede, hulp en ondersteuning die afgelope week.
Vroue, sommiges nog in nagklere, wag dat die onrus bedaar voor hulle huis toe keer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’