RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal-tuinbouklub het die Werner Frehse-natuurreservaat gedurende Mei besoek.
Dié natuurreservaat is 'n skaars renosterveld-reservaat net buite Riversdal.
Christina Mars van die Hessequa Herbarium in Stilbaai het die uitstappie gelei en oor die geskiedenis, habitat en die plante in die reservaat gepraat.
Werner Frehse was Riversdal se stadsingenieur en hy het verskeie bome in die dorp aangeplant en hy was ook nou betrokke by die oprigting van Jursich Park naby die dorpsingang.
Na sy heengaan is die naam in 1975 na Werner Frehse-natuurreservaat verander.
Renosterveld is krities bedreig en het minder as 5% van sy oorspronklike oppervlak oor. Anders as baie van ons fynbos-habitats, groei renosterveld op voedingryke grond.
Vandag is die renosterveld in enkele lappies verbrokkel.
Voor mense se ingrepe was dit 'n plek met baie wild waar die groot troppe bokke tydens hul migrasies gedwaal het.
Dis belangrik om dié habitat gesond te hou. Die beskermde dele word met koel beheerde brande in blokke elke 10 tot 20 jaar aan die gang gehou.
Daar is tot dusver 77 bedreigde spesies op iNaturalist in die reservaat gelys.
Renosterveld is bekend vir sy ongelooflike verskeidenheid bolplante wat meestal in die kouer maande verskyn, maar elke seisoen het sy kleur by Werner Frehse.
Behalwe die renosterbosse (dicerothamnus rhinocerotis) bestaan die vegetasie ook uit 'n groot aantal tipe bossies en 'n groot diversiteit aan vetplante.
Daar is 'n puik piekniekplek sowel as toiletgeriewe in die reservaat, alles in perfekte toestand om 'n dag of oggend by Werner Frese te geniet.
Hessequa-munisipaliteit hou die plek in 'n uitstekende toestand en beskerm hierdie skaars plantewêreld vir toekomstige generasies en die voortbestaan van hierdie uiters interessante habitats.
Vir toegang skakel Shagon Carelse by Hessequa-munisipaliteit en bel Lynette
082 821 4410 om by tuinbouklub aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’