RIVERSDAL NUUS - 'n Staproete met 'n asemrowende uitsig het so stilletjies uit 'n beboste strook langs 'n woonbuurt in wyk 7 te voorskyn gekom, danksy die flink handewerk van 'n paar inwoners.
Dié skoongekapte staproete, of voetslaanpad, strek oor 1 km en bied die mooiste uitsig oor omliggende plase, Hoër Landbouskool Oakdale en natuurlik Sleeping Beauty.
Dis net die eerste fase van die projek, wat gedurende die Covid-nagmerrie deur 'n plaaslike geneesheer, dr. Werner Kapp, begin is om die tyd tydens die inperking te verwyl.
Die plan is om 'n verdere 3 km by die bestaande stuk te voeg.
Werner en sy regterhand, Ronnie van Rooyen, dryf die Heide-voetslaanstaproete, maar dis in dié stadium die nie-amptelike naam.
Die roete begin vanuit Heidestraat redelik hoog op en agter dr. Kapp se woonhuis.
Die stuk grond waarop die staproete gebou word, bestaan uit digte bosse, maar is nie as 'n groen strook verklaar nie.
Ronnie het aan Suid-Kaap Forum vertel hulle het eers die idee by die bure getoets, maar geen besware is teen die planne geopper nie.
Daarna het hulle met die Hessequa-munisipaliteit se beplanningsafdeling in gesprek getree om toestemming te kry om met die voetslaanpad te begin.
Natuurbewaring en CapeNature is ook betrek om seker te maak daar word aan al hul vereistes voldoen en dat beskermde plante nie vernietig word nie.
Die ontbossing van die eerste kilometer het sowat vier maande geduur en verskeie vrywilligers het op Saterdae ingespring om hand by te sit.
Soms was daar tot 30 mense betrokke met grawe, pikke en harke om die pad skoon te maak. Die jongste helper was 10 jaar oud en die oudste 86 jaar.
Beide Werner en Ronnie sê die onder-steuning, veral vanuit wyk 7-inwoners, is 'n openbaring.
"Dis 'n projek vir die gemeenskap uit die gemeenskap. Ons wou nie net terugsit en op die munisipaliteit wag om die voetslaanpad te begin nie en daarom het ons besluit om die taak self aan te pak.
"Dis vermoeiende werk, veral as die son so bak, en jy moet klippe kap om die pad skoon en gelyk te kry."
Die 1 km-roete is met houtspaanders bedek wat gratis deur die saagmeule voorsien is.
Daar is nog groter planne om die staproete verder te ontwikkel.
Ná die verlenging van die roete van 1 na 3 km, wil hulle moontlik al in April begin met die beplanning en bou van 'n baan vir bergfietse.
Ronnie sê hulle moet eers met Natuurbewaring hieroor vergader om toestemming te kry om 'n groter stuk te ontbos waarop die bergfietsbaan aangelê gaan word.
"Ons wil iets bou wat 'n groot uitdaging aan bergfietsryers gaan stel en hul vaardighede gaan toets."
Daar is ook 'n voëluitkykpunt in die pyplyn, maar dalk vir Riversdallers nóg groter nuus is dat hulle 'n roete wil skep om 'n gereelde parkrun hier aan te bied.
Die bestaande roete sal waarskynlik deel daarvan uitmaak.
Net Stilbaai spog met sy eie parkrun en so iets sal die Riversdallers dalk op 'n Saterdag vroeg uit die vere kan lok.
In dié stadium bied die 1 km-roete vir oud en jonk die ideale geleentheid om die omgewing en uitsig te geniet en terselfdertyd lekker oefening te kry.
Die roete is redelik gelyk, maar het tog 'n paar op- en afdraandes wat jou stamina sal toets.
Daar is ook twee houtstoele op mooi uitkykpunte aangebring waar moeë bene gerus kan word.
Die Heide-staproete is beslis 'n groot aanwins vir Riversdal en Werner, Ronnie en hul klomp vrywilligers verdien al die lof vir hul onbaatsugtige handewerk.
Dis omgeemense soos hulle wat van 'n dorp 'n beter plek maak.
Enige los hande wat graag wil help kan Saterdagoggende by die werkgroep aansluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’