RIVERSDAL NUUS - Die dorp gaan vandag (Saterdag 3 Oktober) behoorlik bruis wanneer twee plaaslike rugbyspanne om 13:00 op die Stegveld kragte meet in die eerste wedstryd van die Riversdal Bragging Rights-trofee.
Riversdal Blues en Riversdal Rugbyklub (Dorp) gaan mekaar die stryd aansê om te bepaal wie met die dorp se rugbyspogregte kan spog.
Onder die slagspreuk “Een dorp.
Twee klubs. Een trofee. Een jaar se bragging rights!” beloof die kompetisie om plaaslike rugbyliefhebbers behoorlik op hul voete te hou.
Die kompetisie bestaan uit drie wedstryde. Ná vandag se kragmeting sal die spanne op Saterdag 24 Oktober weer sake uitspook, terwyl die datum vir die derde wedstryd nog bevestig moet word.
Met plaaslike trots en spogregte op die spel, kan ondersteuners hulle gereed maak vir 'n middag van harde duikslae, groot gees en hope rugbyaksie.
Die groot vraag: Wie gaan uiteindelik as Riversdal se spogspan koning kraai?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’