HESSEQUA NUUS - Lede van die volksboukundige vereniging van Suid-Afrika (Vassa) het die streek vanaf 28 tot 30 September besoek. Die vereniging se vorige besoek was gedurende Oktober 1988 - presies 30 jaar gelede.
Die toergroep het die sendingstasie Suurbraak, asook die historiese plaas, Slangrivier besoek, waar Terina Strydom die gasvrou was. Die plaas van Hennie Odendaal, synde Krombeksrivier, het vele verrassings opgelewer.
Die plaas van die Moodie-familie, Grootvadersbosch buite Heidelberg, het ook besoek ontvang en Keith en Michelle het hulle met middagete bederf.
Op Riversdal het prof. Pieter Steyn, eienaar van De Doornkraal Boutique Hotel hulle oor die geskiedenis van Riversdal, sy ontwikkeling en die gepaardgaande restourasie van die geboue, die ou losie en Meintjes-huis ingelig.
Na 'n staptog in Langstraat en besoek aan die Royal Hotel (1881), het die toergroep die Julius Gordon Africana Sentrum besoek. Die kurator, Louise du Plessis, het hulle meer oor Julius Gordon vertel en verskeie artefakte aan die lede getoon. Een van die toerlede meld dan ook in die besoekersboek: "This is how a museum should look."
Middagete was by die Ou Tronk en 'n besoek aan die galgkamer en gerekonstrueerde galg was 'n hoogtepunt. Dr. Bool Smuts was Saterdagmiddag hul gasheer tydens hul besoek aan die historiese Zeekoegat plaas.
Een van die toerlede was John Kramer, wat twee van Riversdal se ou besigheidsgeboue geskilder het; die slaghuis in Wardenstraat en die Sagor besigheidsgebou.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'