RIVERSDAL NUUS - Riversdal-polisie het met die ondersteuning van plaaslike reserviste en buurtwaglede op Sondag 26 November in 'n suksesvolle dwelmoperasie drie verdagtes in dié dorp vasgekeer.
Die operasie is deur sers. Garnet Damans gelei.
Die polisie het beslag gelê op 20 gram tik, 850 gram dagga, vyf Mandrax-tablette, twee halwe Mandrax-tablette, een kwart Mandrax-tablet.
Damans het die reserviste en buurtwaglede vir hul onbaatsugtige diens bedank en gesê hul flink optrede om te help om Riversdal in 'n dwelmvrye dorp te omskep, begin nou vrugte afwerp.
"Ons behaal al meer sukses om die euwel van dwelms met wortel en tak uit te roei, maar ek besef daar lê nog baie werk voor. Ek is werklik trots om sulke staatmakers in my span te hê."
Die drie verdagtes verskyn binnekort in die plaaslike landdroshof op 'n klag van handel in tik en Mandrax, handel in dagga en ook vir die besit van Mandrax.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’