RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal-landbouskou het weer die kollig gesteel tydens Agri-Expo se jaarlikse ledekongres, wat onlangs by die Houw Hoek Hotel, Grabouw, gehou is.
Die plaaslike landbouskou is vereer met 'n spesiale toekenning vir innovasie in die skoubedryf.
Agri-Expo, die liggaam wat landbouskoue in die Wes- en Noord-Kaap ondersteun en koördineer, ken elke jaar vyf toekennings toe in sleutelareas soos jeugontwikkeling, gemeenskapsbetrokkenheid en innovasie.
Riversdal het uitgeblink in die innovasie-kategorie met hul unieke inisiatief om die Atlantic Rail vanaf Hartenbos by die skou-ervaring in te sluit.
"Ons wou 'n ervaring skep wat nostalgie en landbou op 'n kreatiewe manier kombineer," sê Ansie du Buisson van die Riversdal-landbougenootskap.
"Die treinrit het besoekers nie net vervoer nie, maar ook betrek op 'n manier wat vars lewe aan die tradisionele skou gebring het."
Deur die samewerking met Atlantic Rail het skougangers 'n unieke geleentheid gehad om per trein uit Hartenbos te reis en die Riversdal-skou as bestemming te beleef.
Hierdie samevoeging van toerisme, kultuur en landbou is wyd geloof en word gesien as 'n model vir toekomstige skoue.
"Ons is trots om dié toekenning aan ons gemeenskap op te dra," voeg Du Buisson by.
"Die Riversdal-skou is en bly 'n toonbeeld van egte plattelandse samewerking - waar tradisie, landbou en mense hande vat om saam te bou aan 'n hoopvolle toekoms."
Agri-Expo se jaarlikse kongres bring skouorganiseerders van oor die streek bymekaar om kennis te deel, idees uit te ruil en prestasies te vier.
Verteenwoordigers van 19 skoue het vanjaar die kongres bygewoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’