RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa-munisipaliteit het op 28 Mei sy konsepbegroting vir die 2025/2026 finansiële jaar aangekondig.
Die fokus is op volhoubare groei, infrastruktuurontwikkeling en maatskaplike ondersteuning, te midde van nasionale en internasionale ekonomiese onsekerheid.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het tydens die begrotingsvergadering gesê die munisipaliteit bevind hom op die drumpel van 'n nuwe era ná die vorming van 'n Regering van Nasionale Eenheid.
"Ons begroting is konserwatief, maar realisties en fokus op die handhawing van diens-standaarde en ekonomiese stabiliteit," het hy gesê.
Die totale bedryfsinkomste vir die jaar beloop R807,3 miljoen, met uitgawes van R805,9 miljoen. Die kapitaalbegroting staan op R187,6 miljoen. Eiendomsbelasting, wat 18,4% van die inkomste vorm, sal met 5,9% styg.
Elektrisiteitstariewe styg met 11,32%, soos deur NERSA bepaal, terwyl ander tariewe - insluitend water, riool en vullisverwydering - ook met 5,9% sal toeneem.
'n Belangrike deel van die begroting is die belegging in infrastruktuur.
In Riversdal is 'n R57 mil-joen sonplaasprojek, wat beurtkrag hier sal uitskakel, reeds aan die gang en sal teen Desember 2026 voltooi wees. Heidelberg kry ook 'n nuwe watersuiweringsaanleg, ondersteun deur R15,6 miljoen oor die mediumtermyn.
Munisipale kapitaalprojekte sluit opgraderings van paaie, riool- en waternetwerke in verskeie dorpe, waaronder Stilbaai, Albertinia, Witsand, Gouritsmond en Jongensfontein in. Paaie- en stormwaterprojekte ontvang alleenlik R28,8 miljoen.
Die munisipaliteit beklem-toon ook maatskaplike ondersteuning: 4 777 huishoudings ontvang reeds gratis basiese dienste.
Die Deernisbeleid is aangepas om meer inwoners te akkommodeer, met volle afslag op basiese fooie vir kwalifiserende huishoudings en instellings soos ouetehuise, kerke en kleuterskole.
Wat personeeluitgawes betref, word R270,1 miljoen begroot - 33,5% van die uitgawes, binne die nasionale norm.
Die enigste nuwe pos wat geskep word, is dié van 'n IT-bestuursadministrateur.
Riddles het die betrokkenheid van die publiek by die begrotingsproses geloof en benadruk dat Hessequa reeds verskeie uitkomste bereik het deur doelgerigte en volhoubare beplanning.
"Ons mag nie al die antwoorde hê nie, maar ons is gereed om eerlike, realistiese oplossings aan te bied," het Riddles afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’