STILBAAI NUUS - Die plaas Melkehoutfontein is op Donderdag 3 Augustus deur landdros Elize Ellis verbeurd verklaar aan die staat as gevolg van volgehoue dwelmhandel.
Dit is die eerste keer ooit in Suid-Afrika dat onroerende eiendom verbeurd verklaar word weens dwelmhandel en dit maak die deur nou oop vir talle sulke sake.
Dwelmhandelaars en eienaars van eiendom van waar dwelms verkoop word, moet weet dat die lang arm van die gereg op hulle gaan toeslaan en dat die nasionale vervolgingsgesag hul sakke gaan ruk.
Kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie, se wens dat hierdie eiendom verbeurd verklaar moet word voordat hy aftree is nou bewaarheid, maar dit was 'n baie lang proses. Die polisie moes 'n waterdigte saak opbou en konst. Christiaan Zwiegelaar het die onbenydenswaardige taak gehad om dit te laat gebeur.
Nadat konst. Zwiegelaar inligting verkry het dat daar met dwelms handel gedryf word vanaf twee persele op die plaas, naamlik Die Bakkery en Die Kliphuis, het die polisie magtiging verkry vir 'n bedekte operasie en is 'n agent gewerf. Met 'n versteekte videokamera aan sy lyf het die agent verskeie transaksies op die plaas gaan doen oor 'n tydperk van vier maande van einde Oktober 2020 af.
Tien dwelmhandelaars is uit hierdie operasie aangekeer, skuldig bevind en gevonnis, maar die uiteindelike doel was om die eiendom aan die staat verbeurd te verklaar. Die tien het byna almal Art. 18 van die wet op georganiseerde misdaad aanvaar waarvolgens hulle, behalwe die tronkstraf, ook die geld wat hulle uit die verkope gemaak het, moes terugbetaal aan die staat.
Ná 'n deeglike ondersoek, wat agt maande geduur het, was die aanklaer, Herman Steyn, gereed om met die verhoor te begin.
Die eienaar van die plaas is nege jaar gelede oorlede en sy seun, wat in die Kaap bly, het die grond geërf.
Hierdie boedel is egter nooit by die meester van die hooggeregshof aangemeld nie. Hy het ook nooit die hofsake wat oor 'n paar maande gestrek het bygewoon nie. Dit het egter nie die saak vertraag nie.
Uit die getuienis was dit duidelik dat hierdie plaas 'n onheilsnes was. Daar is getuig van minderjariges wat dwelms daar verkoop het. Daar was ook kinders so jonk as 15 jaar oud wat vrylik daar dwelms gekoop het en jong skoolmeisies wat hul liggame daar verkoop het om dagga in die hande te kry.
Die eienaar van die grond is op meer as een geleentheid gemaan om die dwelmhandel te stop, maar hy het nie. Selfs van sy familielede het hom probeer oortuig om die dwelmhandelaars van die plaas af te sit, maar hy het nie daaraan gehoor gegee nie. Selfs 'n petisie wat die Melkhoutfontein Inwonersvereniging opgestel het, het geen indruk op die eienaar gemaak nie en die onwettige bedrywighede is voortgesit.
Hierdie saak se sukses het grootliks afgehang van die uitstekende en deeglike ondersoekwerk van konst. Zwiegelaar met die ondersteuning van sy bevelvoerder, kapt. Van Tonder, en die aanklaer, Herman Steyn, wat 'n waterdigte saak opgebou het.
In haar uitspraak het landdros Elize Ellis spesifiek melding gemaak van die deeglikheid waarmee Zwiegelaar die ondersoek gedoen het en die wyse waarop die polisie en vervolgingsgesag van dag een af saamgewerk het vir hierdie historiese uitslag.
Hopelik het hierdie saak die dwelmhandel in Melkhoutfontein 'n gevoelige slag toegedien, maar dis duidelik dat die polisie nie alleen teen hierdie euwel kan veg nie.
Die gemeenskap en burgerlike organisasies moet hande vat met die polisie om die kinders van Melkhoutfontein en Stilbaai hoop te gee vir 'n beter lewe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’