OOS-KAAP NUUS - Met die redenaarseisoen in skole wat binnekort weer afskop, is dit weer belangrik om te let op die vaardighede wat kinders wat aan Redenaars deelneem, aanleer.
Carien Bloem, hoof van onderwysprojekte by Afriforum, sê dat redenaars en debat op skoolvlak ’n belangrike rol speel - nie net as ’n buitemuurse aktiwiteit nie, maar as ’n vormingsinstrument vir die toekomstige volwassene.
“In ’n wêreld waar jongmense blootgestel word aan vinnige menings, en sosialemedia-uitsprake, raak die vermoë om te dink, logies te redeneer en met oortuiging te kommunikeer al hoe belangriker,” beklemtoon sy.
Sy sê dat, volgens Dr Carol Dwerck, sielkundige en professor aan Stanford Universiteit, kinders se leervermoëns ontwikkel wanneer hulle intellektueel uitgedaag word en leer om idees te toets, te verdedig en te heroorweeg.
“In Redenaars word leerders gedwing om verder te dink as hul eerste reaksie en om argumente met bewyse te staaf, eerder as emosie alleen,” haal sy Dr Dwerck aan.
Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) beklemtoon in verskeie onderwysverslae dat kritiese denke dié vaardigheid van die 21ste eeu is - maar dis moeilik om in die klaskamer aan te leer.
Debat en redenaars bied die oplossing: “Kinders leer ontleed, evalueer en gevolgtrekkings maak”.
Professor Graham Ward, voormalige president van die English-Speaking Union, sê immers: “When students learn to argue respectfully and rationally, they are learning how democracy works in practice”.
Volgens opvoedkundige sielkundige dr. Linda Darling-Hammond, ook verbonde aan Stanford, help gestruktureerde spreekgeleenthede kinders om blootstelling aan spanning te ervaar.
“Gereelde deelname leer hulle om senuweeagtigheid te bestuur - wat later van groot waarde is in onderhoude, universiteitslesings en professionele omgewings.”
Redenaars ontwikkel empatie en luistervaardighede, leerlinge moet aktief luister na opponente se argumente om te kan reageer.
Dit bevorder begrip vir uiteenlopende standpunte.
Redenaars leer kinders vroeg reeds dat meningsverskille nie gelykstaan aan konflik nie, maar aan gesprek - ’n noodsaaklike vaardigheid in ’n diverse samelewing soos Suid-Afrika.
“Verskeie studies toon dat leerders wat debatteer, beter academies vaar, veral in taal, geskiedenis en sosiale wetenskappe.
Die vermoë om duidelik te struktureer, kernpunte uit te lig en logiese argumente te formuleer, dra direk by tot beter skryf- en denkvaardighede,” sê Bloem.
Redenaars bevorder ’n sosiale platform: Kinders ontmoet maats van ander skole en agtergronde, leer spanwerk en ontwikkel leierskap.
“Redenaars is nie ’n elitistiese aktiwiteit vir ’n uitgesoekte groep nie, maar ’n inklusiewe leerervaring wat kinders bevoordeel.
“Dit leer jongmense nie net hoe om te praat nie, maar hoe om te dink, te luister en verantwoordelik deel te neem aan die wêreld rondom hulle.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’