RIVERSDAL NUUS - Die aanhaling “As long as I know the shape of my soul, I’ll be alright,” het Rayn Kluyts, die 19-jarige Heidelberger begeester om haar kunswerk “The Cidada” vir vanjaar se Inheems-tienerkunsprojek te skep.
Die projek word jaarliks deur Gourtiz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR) aangebied. Die prysgeld het vanjaar R26 500 beloop.
Dié aanhaling kom uit die die televisieprogram Adventure Time, wat Rayn, ‘n matriekleerder by Hoërskool CJ Langenhoven in Riversdal, destyds as dogtertjie nooit misgeloop het nie. Dié gesegde is steeds haar motto.
Talent vloei in haar are.
Haar ouers is die veelsydige kunstenaar en skilder Louise Kluyts en die ystersmid, metaalmeester en beeldhouer Andries Kluyts van die kunsateljee en -galery StarNation Studio in Heidelberg.
“My hoofbron van inspirasie vir die illustrasie was my onthou-aspekte uit my kinderdae. Ek wou dit in verskillende kleure en patrone gebruik om diepte aan die illustrasie te gee. Ek wou graag die sikade veral in die Inheems-kunsprojek benut, ‘n keuse uit verskillende speelgoed wat ek as kind gehad het. Een daarvan was 'n plastiek-sonbesie wat ek by my oom gekry het. Ek het interessante inligting oor die sikade nagevors en was verras oor die kleurrykheid van dié insekspesie in die natuur. Die kleure in my illustrasie wissel van pienk tot pers; deur al die skakerings van groen en geel. Vir my is hierdie werk ‘n viering van die herinneringe uit my kinderlewe.”
Die keuringspaneel het Rayn se talent in die afdeling kreatiwiteit geëien. Dié afdeling is deur Rivkah van der Merwe (19, Riversdal) met die werk “Hessequa Medley” gewen en Bailey Lotterie (18, Stilbaai) was derde met die werk “People of the trees."
Al die inskrywings in die ses aangewese afdelings het in aanmerking gekom vir die ontwerper-toekenning van die jaar. GCBR se verteenwoordigers op die paneel - die grafiese kunstenaar, Riëtte Error, en die natuurkundige, dr Wilhelm de Beer - het Rayn se inskrywing gekies om vanjaar op GCBR se ontwerperdrag gebruik te word.
Rayn verdien met haar inskrywing R5 700. “Ek sou met R5 tevrede gewees het,” het sy oorstelpt ná die aankondiging uitgeroep. “Wat ‘n voorreg om deel te wees van ‘n projek wat help om die natuur te beskerm en ons aarde te bewaar!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’