STILBAAI NUUS - Radio Fynbos sorg dat mense wêreldwyd kan inskakel en op hoogte bly van wat in hierdie pragtige dorp gebeur.
Marco Olivier het gedurende Covid in 2021 die aanlyn radiostasie begin en in Desember 2022 het Nadia en Adriaan Rabie die stasie oorgeneem.
Nadia het daarna teruggekeer na die onderwys en op 16 September 2024 het
dr. Leonie Pretorius die radiostasie oorgeneem.
Dinsdag 16 September is Leonie al vir 'n jaar in beheer van die radiostasie en in hierdie tyd het die luisteraars toegeneem van 6 000 tot 7 000.
Leonie sê dat sy in die bediening bekend is as dr. Leonie Pretorius Roets, maar haar doel met die oorneem van die radiostasie was nie om net nog 'n Radiokansel daar te stel nie. Radio Fynbos se slagspreuk is, "Fyn daarop ingestel om die mooi agter elke bos te soek" en dit is wat sy vir die gemeenskap wou bring.
Die mooi agter elke bos.
Lig skyn nie in die lig nie, dit skyn in die donker en dit is waarom sy 'n sekulêre radiostasie wou hê.
Sondae is dit byvoorbeeld net geestelike programme, maar vir die res van die week is daar 'n wye verskeidenheid van musiek, geselsprogramme, radio- en video-onderhoude, asook leersame programme oor byvoorbeeld tuinmaak en interessante plekke.
Gereelde gesprekke wat plaasvind is Jakkie en Veronica Wessels wat gesels Oor Alles en Nog Wat, Francu Kruger doen Ken Jou Regte, suster Sulize Keyl praat oor gesondheidsake, Carel Bester hanteer Van Key tot Crescendo, Chanté Jonker doen die movie raaiskote en Karen Loots hanteer op 'n Maandag die dagboekinskrywings en sy lees Suid-Kaap Forum se hoofnuus.
Op geestelike vlak doen pastore Pieter en Tolley Jordaan die Wees Lig-program en pastoor Martha Kleyn, Fontein van Vrede, terwyl pastoor Carin Myburgh, Trinity Truth hanteer.
Dr. Ivonne Bergh se program is Deur Breek.
Francois Terblanche se program is Vreemde Feite saam met Franna, Wynand Olivier hanteer eiendomme, Hester Genis doen Blomstories in die Voorhuis, en Willemien du Plessis se program is Heuning en Hardekool.
Esbé Williams en Anna Frances van Tuin-Op-Die-Brak gesels oor plante.
Leonie sê dat hulle ateljee in Stilbaai is, maar dat hulle ook geleenthede bywoon waar hulle opnames maak en met interessante mense gesels.
Om in te skakel laai jy net die Radio South Africa-toepassing op jou rekenaar of slimfoon af en dan soek jy Radio Fynbos.
Jy kan ook op YouTube ingaan en as jy op Radio Fynbos inskakel kan jy na al die video-opnames en radio-onderhoude luister.
WhatsApp Radio Fynbos by 076 811 7807 indien jy enige navrae het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’