STILBAAI NUUS - 'n Stilbaaier, Rudolf Meyer (73), het Maandag 28 April die Best of Oudtshoorn Lottery gewen nadat sy gelukkige nommer, 77, getrek is vir 'n heerlike vakansie in die Klein-Karoo.
Die trekking is gedoen tydens 'n spesiale geleentheid by die Ostrich Emporium. Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het die trekking gedoen terwyl Pienaar Muller, projekbestuurder van OSI, en Dave van der Walt van OSI toegekyk het.
Kaartjies is deur die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI) verkoop om geld in te samel vir noodsaaklike opgraderingswerk by die NA Smit-swembad se pawiljoen.
Die prys is ter waarde van R70 000 en is vir vier persone en strek vanaf 28 Junie tot Saterdag 5 Julie en sluit alle akkommodasie, aktiwiteite en etes in.
Die volgende plekke in Oudtshoorn vorm deel van die prys:
De Zeekoei, Safari Volstruisplaas, La Plume Spa, Mooiplaas, Cango Wildlife Ranch, Nostalgjie, Surval Olyflandgoed, Black Swan, Sante Fe Spur, Wilgewandel-vakansieplaas, Kango-grotte, Oude Meul, Karusa, Buffelsdrift Game Lodge, Karoopot en Chandelier Game Lodge.
Onkant gevang
In gesprek met Meyer noem hy aan Oudtshoorn Courant dat die skok van die wen nog stadig besig is om werklikheid te word.
"My dogter, Zanie Smit woon in Oudtshoorn.
Haar twee seuns is by tweekamp in Oudtshoorn betrokke. My dogter het my vertel van die kaartjies en dat geld ingesamel word om noodsaaklike opgradering aan die pawiljoen by die NA Smit-swembad te doen.
My kleinkinders swem gereeld in swemgalas hier so dit is 'n goeie inisiatief om te ondersteun en het ek 'n kaartjie gekoop."
Volgens Meyer was hy nogal onkant gevang toe Muller hom skakel om te sê hy het die loting gewen.
"Ek het dit aanvanklik nie geglo nie en gedink iemand is besig om my 'n poets te bak, maar ons is nou baie opgewonde oor die enorme prys."
Volgens hom kan hy en sy vrou nie wag vir die lekker vakansie in Oudtshoorn nie, maar besluit hulle nog wie hulle gaan vergesel.
Dave van der Walt van OSI noem dat die prys moontlik gemaak is deur die betrokkenheid van 'n klompie Oudtshoorn besighede, gastehuise, toerisme-attraksies en weldoeners.
Deelnemers van oor die hele land het kaartjies van R250 elke gekoop met die hoop om hierdie groot prys te wen. Die kompetisie was onder die toesig van die NLC aangebied en kaartjies kon aanlyn gekoop word.
Wie is die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI)?
Die ontoereikende fasiliteite het veroorsaak dat Oudtshoorn sportbyeenkomste verloor het wat weer gelei het tot groter werkloosheid.
Dié verlies het die Oudtshoorn-sakegemeenskap laat besef dat indien hulle nie in hulle privaat hoedanigheid tot dié stryd toetree nie, die dorp sy status as voorkeur sportbestemming sou verloor.
In 'n poging om die situasie te beredder is die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI) gestig.
Die OSI is 'n a-politiese forum waar sportlui, die sakesektor en die Oudtshoorn-munisipaliteit (eienaar van meeste van die plaaslike sportfasiliteite) saamwerk om 'n gedeelde visie van sportontwikkeling deur die verbetering/onderhoud van sportfasiliteite sowel as die bevordering van geleenthede tot deelname.
Op 7 Junie 2023 is die OSI amptelik gestig met 'n verkose interimbestuur om die sake te bestuur.
Die grondwet is goedgekeur, 'n webtuiste is ontwikkel en 'n Facebook-blad word bedryf.
Op dié bestuur het die Oudtshoorn-sportraad, die Oudtshoorn-sakekamer asook die Oudtshoorn-munisipaliteit ex-officio sitting.
Die gemeenskapsprojek het alreeds die eerste dividende gewys met die opgradering van die ablusiegeriewe by die NA Smit-swembad waar die sakesektor reeds in die omgewing van R50 000 spandeer het.
Bedankings
Die organiseerders het die volgende persone/instansies bedank: die media, Oudtshoorn-toerisme (Corleen Barnard), Oudtshoorn-besigheidskamer (Helen Butler) en die Lotterykomitee van die OSI (Pienaar Muller, Hans van der Veen, Wilma Pienaar en Dave van der Walt).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’