HESSEQUA NUUS - Dis 'n vraag wat gereeld by mense opkom: wat makeer die weer?
Elke weerberig bevat meteens daagliks waarskuwings: gunstige toestande vir wegholveldbrande en/of lewensbedreigende oorstromings...
Elders is die weer ook deurmekaar.
Wat is waar en wie se fout is dit?
Die antwoord is reguit, omstrede en kommerwekkend: Ek en jy: hier!
Só beweer prof. Francois Durand, paleontoloog en ekoloog van die departement dierkunde van die Universiteit Johannesburg.
Hy het landwyd bekendheid verwerf as 'Die Professor' na aanleiding van sy weeklikse praatjie met Amoré Bekker in haar oggendprogram Alhoebekker op RSG. Hy word ook gereeld op ander radiostasies gehoor en verskyn dikwels op televisie.
Hy is 'n anderse akademikus; 'n man met 'n aantreklike stem en 'n bekoorlik-verrassende aanslag wat aangryp en wyd tref. Sy geselsies is onthullend spitsvondig en selfs verleentheid-geniepsig: altyd onvoorspelbaar.
En nou kom hy binnekort in Riversdal gesels danksy 'n uitnodiging van die plaaslike tuinbouklub (GFT).
Hy gaan gesels oor 'n kwelkwessie wat ons almal raak. Die tema is "Klimaatsverandering: 'n verwoestende wêreldwye werklikheid."
Die inwoners van die Hessequa-streek kry in Maart vanjaar die geleentheid om die professor in Riversdal te ontmoet.
Hy is ook 'n wêreldbekende kunstenaar wie se kuns onder meer op posseëls en goue en silwer munte van die SA Munt verskyn het.
Hy het vir jare die rubriek Fossielfokus in die wetenskaptydskrif Archimedes geskryf en was vir meer as 25 jaar op radio 'n deelnemer aan die wetenskapprogramme Hoe verklaar u dit op Afrikaans Stereo en later Ek wil weet op radio Pretoria en Pretoria FM. Mens kan hom gereeld op TV en op die radio hoor waar hy oor dierkunde, ekologie, paleontologie en klimaatsverandering gesels.
Dié bekroonde akademikus se lewensdoel is om die wetenskap verklaarbaar en aan álmal toeganklik te maak. Dit doen hy onder meer deur middel van sy gewilde webwerf - Die wêreld om ons - en 'n splinternuwe boekbekendstelling.
Die professor hét raad om tog die amper onomkeerbare skade aan die heelal te probeer herstel en verdere verval minstens te vertraag; al is dit net om die gemoedere te troos.
Hessequa-inwoners kan byvoorbeeld die omgewing teen klimaatsverandering help beskerm met die aanplant van die kareeboom... As jy meer wil weet moet jy na die professor kom luister wanneer hy Riversdal in Maart besoek.
Op 8 Maart belig hy die verwoesting wat reeds wêreldwyd veroorsaak is en op 9 Maart verskuif die fokus na Suid-Afrika en toekomstige verwagtings.
Bespreek betyds vir dié gesprekke by die NG Kerk Wes-saal in Versfeldstaat. Dit begin om 09:00 en duur tot 12:00. Die oggendtee met verversings op 8 Maart kos R120 en die smul-ontbyt op 9 Maart kos R200.
Vir meer inligting bel Anzette Finnemore by 072 189 3549 of Lynette Nainkin by 082 821 4410.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'